hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die voorwaarde vir vrug dra

1. “Ek is die ware druiwestok en my Vader is die tuinier.

2. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra.

3. Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het.

4. Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie.

5. “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

6. Wie nie aan My verbind bly nie, word weggegooi soos ’n loot en verdroog. Hulle maak gewoonlik sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur en dit verbrand.

7. As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

8. Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is.

9. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet aan my liefde verbonde bly.

10. As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly, net soos Ek ook die opdragte van my Vader gehoorsaam het en aan sy liefde verbonde gebly het.

11. Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees.

12. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.

13. Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende.

14. Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra.

15. Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het.

16. Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou. Só sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.

17. Ek gee aan julle dié opdrag: julle moet mekaar liefhê.”

Die wêreld haat gelowiges

18. “As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het.

19. As julle uit die wêreld ontstaan het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie uit die wêreld ontstaan het nie, maar Ek julle uitgekies het uit die wêreld – daarom haat die wêreld julle.

20. “Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. Aangesien hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. Aangesien hulle my boodskap ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.

21. Hulle sal al daardie dinge aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom wat My gestuur het nie ken nie.

22. As Ek nie gekom het en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuld gehad het nie, maar nou het hulle nie ’n verskoning vir hulle sonde nie.

23. Die een wat My haat, haat ook die Vader.

24. As Ek nie onder hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie. Maar nou het hulle dit reeds gesien en tog het hulle My en my Vader gehaat.

25. “Die uitspraak wat in hulle wet opgeskryf is, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’

26. “Wanneer die Raadgewer kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader af uitgaan, sal Hy oor My in die openbaar getuienis aflê.

27. Julle moet ook aanhou getuig omdat julle reg van die begin af saam met My is.”