hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het werklik opgestaan!

1. Vroeg die Sondagoggend toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is.

2. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

3. Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop.

4. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom.

5. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie.

6. Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê,

7. én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol.

8. Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo.

9. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10. Daarna het die dissipels weer teruggegaan huis toe.

Jesus verskyn eerste aan Maria

Magdalena

11. Maria het buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk en in die graf in gekyk.

12. Sy sien toe twee engele met wit klere aan wat sit op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het, een aan die kopkant en een aan die voetekant.

13. Hulle vra haar: “Vrou, waarom huil jy?”Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

14. Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus was nie.

15. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?”Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is, en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het, sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.”

16. Jesus sê vir haar: “Maria!”Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken ‘Leermeester’.

17. Jesus sê toe vir haar: “Moenie aan My raak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Gaan na my broers en vertel vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.”

18. Maria Magdalena het die boodskap aan Jesus se dissipels gaan oordra: “Ek het die Here gesien!” Sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Jesus wys aan sy dissipels sy

hande en sy sy

19. Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20. Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien.

21. “Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees!

23. Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.”

Tomas wil eers self sien en voel

voordat hy sal glo

24. Tomas, ook genoem Didimus, een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie.

25. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nóóit glo nie.”

26. Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: “Vrede vir julle!”

27. Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en hou op ongelowig wees, maar word gelowig!”

28. Tomas het vir Jesus gesê: “My Here en my God!”

29. Jesus se reaksie daarop was: “Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, en tog geglo het.”

Die doel met die Evangelie

volgens Johannes

30. Jesus het nog baie ander wondertekens voor sy dissipels gedoen. Daardie tekens is nie opgeskryf in hierdie boek nie.

31. Hierdie tekens is wel opgeskryf sodat julle tot die geloof kan kom dat Jesus die Messias is, die Seun van God, en sodat julle deur aan te hou glo, in sy Naam die lewe kan hê.