hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus word gearresteer

1. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy saam met sy dissipels die Kedronspruit oorgesteek. Aan die oorkant was daar ’n tuin geleë. Hy en sy dissipels het die tuin toe binnegegaan.

2. Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook die plek geken omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het.

3. Judas het op daardie oomblik die afdeling soldate en die wagte van die priesterhoofde en Fariseërs begelei en by die Olyftuin aangekom met lanterns, fakkels en wapens.

4. Jesus was egter deeglik bewus van alles wat oor Hom sou kom en het op sy eie uit die groep na vore beweeg en vir hulle gesê: “Wie soek julle eintlik?”

5. Hulle het Hom geantwoord: “Jesus van Nasaret.”“Dit is Ek,” antwoord Jesus.Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook daar tussen hulle rondgestaan.

6. En toe Jesus vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle almal padgegee en op die grond neergeval.

7. Jesus het sy vraag aan hulle herhaal: “Wie soek julle eintlik?”“Jesus van Nasaret,” was hulle antwoord.

8. Jesus se reaksie was: “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is. As julle Mý dan soek, laat hierdie mense wat saam met My is, weggaan.”

9. Sodoende het die woord wat Hy vroeër uitgespreek het, waar geword: “Uit die mense wat U aan My toevertrou het, het niemand verlore gegaan nie.”

10. Simon Petrus het ’n swaard by hom gedra. Hy trek toe sy swaard uit die skede, slaan daarmee na die slaaf van die hoofpriester, en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus.

11. Jesus sê toe dadelik vir Petrus: “Sit die swaard terug in sy skede. Sal Ek dan nie die beker drink wat die Vader aan My gegee het nie?”

Jesus verskyn voor Annas

12. Toe het die afdeling soldate en die bevelvoerder en die wagte van die Joodse owerhede Jesus gearresteer en Hom geboei.

13. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas wat gedurende daardie jaar die hoofpriester was.

14. Dit was Kajafas wat die Jode met die raad bedien het dat dit voordeliger is dat een man vir die volk sterf.

Petrus verloën Jesus die eerste

keer

15. Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie ander dissipel was bevriend met die hoofpriester en het saam met Jesus die hoofpriester se binnehof ingegaan.

16. Petrus het egter buite by die hek bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat bevriend was met die hoofpriester, uitgegaan, met die meisie wat diens doen by die deur gepraat en Petrus ingebring.

17. Die meisie sê toe vir Petrus: “Is jy nie tog ook een van die dissipels van hierdie man nie?”“Ek is nie!” antwoord Petrus.

18. Die slawe en die wagte het hulle rondom ’n vuur staan en warm maak, omdat dit koud was. Petrus het saam met hulle hom daar staan en warm maak.

Die hoofpriester ondervra Jesus

19. Die hoofpriester het Jesus uitgevra oor sy dissipels en oor sy onderrig aan die mense.

20. Jesus het hom geantwoord: “Ek het tot nou toe openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel onderrig gegee, waar al die Jode saamgekom het, en Ek het niks in die geheim gesê nie.

21. Waarom ondervra u My? Vra liewer dié mense wat gehoor het wat Ek aan hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

22. Toe Jesus dié antwoord gegee het, het een van die wagte wat daar rondgestaan het, Jesus ’n vuishou gegee en gesê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?”

23. Jesus het hom geantwoord: “As Ek kwaadwillig gepraat het, sê dan wat so kwaadwillig was; maar as dit met goeie bedoelings was, waarom slaan jy My?”

24. Annas het Hom toe geboei na Kajafas, die hoofpriester, gestuur.

Petrus verloën Jesus ’n tweede

en derde keer

25. Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê:“Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?”Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26. Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?”

27. Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai.

Jesus verskyn voor Pilatus

28. Daarop het hulle Jesus van Kajafas af na die hoofkwartier van die Romeinse goewerneur gebring. Dit was vroegoggend. Self het hulle nie ingegaan na die hoofkwartier nie sodat hulle nie onrein sou word nie, met die oog daarop om die Paasfees te kan vier.

29. Pilatus het buitentoe na hulle gestap en gevra: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?”

30. Hulle antwoord was: “As hy nie ’n misdaad gepleeg het nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31. Pilatus sê toe vir hulle: “Neem hom en gaan oordeel hom volgens julle eie wet.”Die Jode het egter vir hom gesê: “Ons word nie toegelaat om enigiemand tereg te stel nie.”

32. Dit het só plaasgevind sodat die woorde van Jesus vervul sou word toe Hy gesinspeel het op watter vorm van dood Hy sou sterf.

33. Pilatus het toe weer in die hoofkwartier ingegaan, Jesus geroep en vir Hom gesê: “Is jy die Koning van die Jode?”

34. Jesus het daarop reageer: “Sê u dit uit u eie, of het ander dit oor My aan u vertel?”

35. “Ek is mos nie ’n Jood nie!” het Pilatus geantwoord. “Jou volk en jou priesterhoofde het jou aan my uitgelewer. Wat het jy regtig verkeerd gedoen?”

36. Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my heerskappy van hierdie wêreld was, sou my onderdane hard geveg het sodat Ek nie aan die Joodse owerhede uitgelewer word nie. Maar nou is my heerskappy nie van hier nie.”

37. “Is jy dan tog wel ’n koning?” vra Pilatus.“U sê dit, dat Ek ’n koning is,” antwoord Jesus. “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem.”

38. Pilatus sê toe vir Jesus: “Wat is waarheid?” Terwyl hy dit sê, gaan Pilatus weer buitentoe na die Jode en kondig aan: “Ek vind geen skuld in hom nie.

39. Dit is egter die gebruik by julle dat ek iemand vir julle loslaat op die Paasfees. Wil julle dus hê dat ek vir julle die Koning van die Jode loslaat?”

40. Hulle skree toe terug: “Nee, beslis nie daardie man nie, eerder vir Barabbas!” Barabbas was ’n misdadiger.