hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus se eie broers glo nie in

Hom nie

1. Hierna het Jesus in Galilea rondbeweeg. Hy wou nie in Judea rondgaan nie omdat die Jode Hom daar gesoek het om Hom dood te maak.

2. Die Joodse Huttefees was op hande.

3. Jesus se broers het toe vir Hom gesê: “Gaan tog ’n slag hiervandaan na Judea toe sodat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen.

4. Niemand wat op die voorgrond wil wees, doen enigiets in die geheim nie. As jy dan hierdie dinge doen, gaan maak jou openlik voor al die mense bekend.”

5. Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.

6. Jesus sê toe vir hulle: “My regte geleentheid het nog nie gekom nie, maar julle geleentheid is altyd voor hande.

7. Die mensdom kan julle nie haat nie, maar hy haat My omdat Ek openlik oor hom getuig het dat sy optredes boos is.

8. Gaan julle gerus fees toe. Ek gaan beslis nog nie na hierdie fees toe nie omdat my regte geleentheid nog nie gekom het nie.”

9. Jesus het hulle hierdie dinge meegedeel en Hy het in Galilea agtergebly.

Jesus eis billike beoordeling

10. Jesus se broers het na die fees toe gegaan. Hy het toe later ook self gegaan, nie openlik nie, maar in die geheim.

11. Die Jode het by die fees na Jesus gesoek en gevra: “Waar is daardie man?”

12. Daar was onder die skare sommer baie bespiegeling oor Jesus. Sommige het gesê dat Hy ’n goeie mens is. Ander het nie saamgestem nie, maar gesê dat Hy die skare mislei.

13. Niemand het egter openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Joodse leiers.

14. Halfpad deur die feesvierings het Jesus na die tempel toe gegaan en mense onderrig.

15. Die Joodse leiers was erg ontsteld en het gesê: “Hoe is dit dat hierdie man soveel geleerdheid het alhoewel hy nie studeer het nie?”

16. As antwoord het Jesus gesê: “My onderrig is nie my eie nie, maar van Hom wat My gestuur het.

17. As iemand gewillig is om God se wil te doen, sal hy weet of dié onderrig van God afkomstig is en of Ek uit my eie praat.

18. Wie uit sy eie praat, strewe na sy eie eerbetoning; maar Hy wat die eerbetoning nastreef van God wat Hom gestuur het, Hy is eg en in Hom is geen valsheid nie.

19. Het Moses dan nie die wet aan julle gegee nie? En tog voer niemand onder julle die wet uit nie. Waarom soek julle ’n geleentheid om My dood te maak?”

20. Die skare het geantwoord: “Jy is in die mag van ’n bose gees! Wie soek ’n geleentheid om jou dood te maak?”

21. Jesus het daarop reageer: “Ek het net een ding gedoen en julle almal is ontsteld.

22. Vanweë die feit dat Moses aan julle die besnydenis gegee het – eintlik is dit nie van Moses afkomstig nie, maar van die voorvaders – besny julle selfs op ’n Sabbat ’n mens.

23. As iemand op ’n Sabbat die besnydenis ontvang met die doel om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan oor My ontstoke omdat Ek op ’n Sabbat ’n hele mens gesond gemaak het?

24. Hou op oordeel net op wat julle sien; oordeel billik.”

Jesus doen Messias-

wondertekens

25. Sommige van die inwoners van Jerusalem het opgemerk: “Is hy nie die persoon wat hulle soek om dood te maak nie?

26. Kyk net, hy is besig om in die openbaar te praat en hulle sê niks teen hom nie. Het die leiers nie miskien tereg tot die besef gekom dat hy die Messias is nie?

27. Maar hoe is dit moontlik? Ons weet mos waar hierdie man vandaan kom; wanneer die Messias ook al kom, weet niemand waarvandaan Hy kom nie.”

28. Terwyl Jesus besig was om in die tempel onderrig te gee, het Hy uitgeroep en gesê: “Julle ken My en julle weet waarvandaan Ek kom! Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware Een wat My gestuur het. Hom herken julle nie.

29. Ek ken Hom omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”

30. Hulle het toe pogings aangewend om Hom te arresteer, maar niemand het ’n hand op Hom gelê nie omdat sy tyd nog nie gekom het nie.

31. Baie mense uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Messias ook al kom, sal Hy sekerlik nie méér wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie.”

32. Die Fariseërs het gehoor dat die skare so oor Hom bespiegel. Hulle en die priesterhoofde het toe wagte gestuur om Hom te arresteer.

33. Jesus het egter reageer: “Ek is net vir ’n kort tydjie nog by julle; dan gaan Ek terug na Hom wat My gestuur het.

34. Julle sal My soek en My nie kry nie, en waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie.”

35. Toe het die Joodse leiers vir mekaar gesê: “Waarheen beplan hierdie man om te gaan dat ons hom nie sou kry nie? Hy beplan tog nie om na die verstrooide Jode onder die Griekssprekendes te gaan en om daar die Grieke te gaan onderrig nie?

36. Wat beteken die uitdrukking as Hy sê: ‘Julle sal My soek, maar nie kry nie, want waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie’?”

Die klimaks op die laaste dag

van die fees

37. Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink.

38. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’”

39. Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Vrae oor wie Jesus is

40. Die mense uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het opgemerk: “Hierdie man is regtig die Profeet.”

41. Ander het gesê: “Hierdie man is die Messias.” En nog ander het gesê: “Die Messias kom tog nie uit Galilea nie?

42. Het die Skrif dan nie gesê dat die Messias uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid, sou kom nie?”

43. Onder die skare het daar toe verdeeldheid oor Jesus gekom.

44. Sommige van die mense het Hom selfs probeer arresteer, maar niemand het aan Hom geraak nie.

45. Gevolglik het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan en dié het vir hulle gesê: “Waarom het julle Hom nie saamgebring nie?”

46. Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het ’n mens só gepraat soos hierdie man nie.”

47. Die Fariseërs antwoord hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie?

48. Het iemand uit die geledere van die leiers of uit die Fariseërs miskien tot geloof in Hom gekom?

49. Nee, dit is net hierdie skare mense wat nie vertroud is met die wet nie; vervloek is hulle!”

50. Nikodemus, wat Jesus vroeër opgesoek het, een uit hulle kring, sê toe vir hulle:

51. “Ons wet veroordeel nie ’n mens as ons nie eers na hom geluister het en agtergekom wat hy doen nie.”

52. Hulle het dadelik reageer: “Jy kom tog nie ook uit Galilea nie? Gaan doen navorsing en jy sal sien dat daar nog geen profeet uit Galilea na vore tree nie.”

53. Elkeen het toe na sy huis toe gegaan.