hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus eis dat sy voorbeeld gevolg

word

1. Voor die viering van die paasmaaltyd het Jesus reeds geweet dat sy tyd aangebreek het om van hierdie wêreld af na die Vader toe oor te gaan. Jesus was lief vir sy eie mense wat in die wêreld gewoon het. Hy het hulle enduit liefgehad.

2. Gedurende die aandete het die duiwel alreeds ’n saadjie in die hart van Judas, die seun van Simon Iskariot, geplant om Jesus uit te lewer.

3. Jesus het geweet dat die Vader alles tot sy beskikking gestel het, en dat Hy van God gekom het en weer na God teruggaan.

4. Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy bo-klere uitgetrek, ’n doek gevat en dit om Hom vasgebind.

5. Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog met die doek wat om Hom vasgebind was.

6. Hy kom toe by Simon Petrus, wat vir Hom sê: “Here, gaan U mý voete was?”

7. Jesus antwoord hom: “Wat Ek besig is om te doen, verstaan jy nie nou nie, maar wanneer alles verby is, sal jy dit verstaan.”

8. Petrus se onmiddellike reaksie was: “U sal tot in ewigheid nooit mý voete was nie!”Jesus antwoord hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

9. Simon Petrus vra Jesus toe: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en kop.”

10. Jesus sê vir hom: “Iemand wat klaar gebad het, is heeltemal skoon, behalwe om nog sy voete te was. En julle is mos reeds skoon – nee, tog nie almal nie.”

11. Jesus het goed geweet wie Hom sou uitlewer; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”

12. Nadat Jesus hulle voete klaar gewas het, het Hy sy bo-klere aangetrek en weer aangelê by die ete. Hy sê toe vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?

13. Julle noem My Leermeester en Here, en tereg só, want Ek is dit.

14. As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was.

15. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

16. Hoe waar is dit tog nie: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie en ’n gestuurde ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie.

17. As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle geseënd wees as julle dit ook doen.”

Jesus wys Judas as verraaier uit

18. “Ek praat nie van julle almal nie. Ek weet goed wie Ek uitgesoek het. Die Skrif moet egter in vervulling gaan: ‘Die een wat van my brood geniet, het teen My gedraai.’

19. Ek maak julle nou al daarop bedag, nog voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit ook al gebeur dat Ek is wat Ek is.

20. Ek verseker julle, wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang ook vir Hom wat My gestuur het.”

21. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy erg ontsteld geword en openlik verklaar: “Ek verseker julle, een van julle wat hier is, gaan My uitlewer.”

22. Die dissipels het na mekaar gekyk, onseker oor wie Hy bedoel.

23. Een van Jesus se dissipels het langs Hom aan tafel aangelê – die lieflingdissipel.

24. Simon Petrus knik toe vir hom dat hy moet vra wie dit is van wie Jesus praat.

25. Hy het toe agteroor geleun tot na aan Jesus se bors en vir Hom gevra: “Here, wie is dit?”

26. Jesus reageer daarop: “Dit is dié een vir wie Ek ’n stukkie brood in die sous sal doop en vir hom gee.” Hy vat toe ’n stukkie brood, doop dit in die sous en gee dit aan Judas, seun van Simon Iskariot.

27. Ná die stukkie brood het Satan van hom besit geneem. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy doen, moet jy gou afhandel!”

28. Niemand wat aan tafel was, het geweet om watter rede Hy dit vir Judas gesê het nie.

29. Sommige het inderdaad gedink, terwyl Judas die beursie dra, dat Jesus vir hom gesê het: “Gaan koop wat ons nodig het vir die paasete,” of dat hy soos gebruiklik iets aan die armes moes gaan gee.

30. Net nadat Judas die stukkie brood aanvaar het, het hy dadelik vertrek. Dit was nag.

Die haan se kraai word as teken

vir Petrus gegee

31. Toe Judas vertrek het, merk Jesus op: “Nou is Ek, die Seun van die Mens, verheerlik, en God is deur My verheerlik.

32. As God deur My verheerlik is, sal God self My ook verheerlik; en Hy sal My binnekort verheerlik.

33. Kinders, Ek is nog net vir ’n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou weer vir julle: Daar waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.

34. Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê.

35. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.”

36. Simon Petrus vra Hom: “Here, waarheen gaan U?”Jesus het geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My wel volg.”

37. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, waarom kan ek U nie nou reeds volg nie? Ek sal my lewe ter wille van U opoffer.”

38. “Sal jy regtig jou lewe ter wille van My opoffer?” vra Jesus. “Ek verseker jou, voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal ontken het dat jy My ken.”