hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus verander water in wyn by

’n bruilof

1. Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana, in die Galilea-gebied. Jesus se ma het dit bygewoon

2. en Hy en sy dissipels was ook na die bruilof toe genooi.

3. Toe die wyn opraak, sê Jesus se ma vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”

4. Jesus se reaksie was: “Wat het dit met My en jou te doen, Vrou? My tyd het nog nie gekom nie.”

5. Sy ma sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle gaan doen.”

6. Daar het ses klipkanne gestaan met water wat die Jode vir hulle rituele reiniging gebruik het. Elkeen het ongeveer 100 liter gehou.

7. Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water!” Hulle het dit tot heel bo vol gemaak.

8. Toe sê Jesus ook nog vir hulle: “Skep nou daarvan uit en vat dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen.

9. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom. (Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het wel geweet.)

10. Die seremoniemeester sê toe vir die bruidegom: “Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor, en wanneer die gaste nie meer so goed kan onderskei nie, die swakker gehalte; jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11. Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana, in Galilea, gedoen. Hy het sy Goddelike heerlikheid op só ’n manier sigbaar gemaak, en sy dissipels het in Hom begin glo.

12. Hierna het Jesus, sy ma, broers en dissipels na Kapernaum toe vertrek waar hulle vir ’n kort tyd gebly het.

Jesus maak die tempel skoon

13. Dit was naby die tyd van die Paasfees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan.

14. In die tempelgebied het Hy die smouse met hulle beeste, skape en duiwe aangetref, asook die geldwisselaars by hulle tafels.

15. Met toutjies het Jesus toe ’n sweep gevleg en almal uit die tempelgebied verjaag, ook die skape en beeste. Hy het die geldstukke van die geldwisselaars op die grond uitgegooi en hulle tafels omgekeer.

16. En vir die smouse wat die duiwe verkoop het, het Jesus gesê: “Vat hierdie goed dadelik weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie!”

17. Jesus se dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die ywer vir u huis brand in my binneste.”

18. Die Jode het daarop reageer: “Oor watter wonderteken beskik jy om te bewys dat jy hierdie dinge mag doen?”

19. Jesus het hulle geantwoord: “Sloop hierdie tempel en in drie dae sal Ek dit weer oprig.”

20. Die Jode kap toe heftig terug: “Daar is vir 46 jaar lank aan hierdie tempel gebou, en jy sal dit binne drie dae weer oprig?”

21. Hy het egter oor die tempel van sy liggaam gepraat.

22. Toe Hy eers uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het en hulle het die Skrif en die woorde geglo wat Jesus gesê het.

23. Terwyl Jesus tydens die viering van die Paasfees in Jerusalem was, het baie mense in Hom begin glo toe hulle die wondertekens sien wat Hy gedoen het.

24. Jesus self het egter nie op hulle staatgemaak nie omdat Hy alle mense ken.

25. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom oor die mens sou inlig nie, want Hy het self kennis gedra van wat in ’n mens aangaan.