hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 6 Die Boodskap (DB)

Die agtste droom: vier oorlogswaens

1. Ek het weer ’n droom gehad. Vier oorlogswaens het tussen twee berge uitgekom. Die berge het so ’n koper kleur gehad.

2. Die eerste oorlogswa is deur twee bruin perde getrek. Twee swart perde was voor die tweede oorlogswa.

3. Voor die derde oorlogswa was daar wit perde, en bont perde voor die vierde strydwa. Die perde was almal baie sterk.

4. Ek het vir die engel gevra: Meneer, wat beteken die droom wat ek gehad het?

5. Sy antwoord was: “Dit is vier winde wat van die hemel af kom. Die Here het hulle gestuur. Hulle gaan in verskillende rigtings.

6. Die oorlogswa met die swart perde gaan in ’n noordelike rigting. Dié met die wit perde gaan weswaarts. Die oorlogswa met die bontes voor gaan in ’n suidelike rigting.”

7. Die perde was sterk en vol energie. Hulle was lus om weg te spring om die patrollies oor die aarde te ry. Die Here het gesê: “Gaan ry kruis en dwars oor die aarde!” Hulle het uitgegaan om die wêreld mooi deur te kyk.

8. Die Here het my geroep en vir my gesê: “Die oorlogswa wat noord gery het, bring my Gees daarnatoe. Ek weet nou dinge sal daar onder beheer wees.”

’n Kroon vir Jesua die hoofpriester

9. Die Here het my ’n opdrag gegee wat ek moes doen.

10. “Gaan vandag nog na die huis van Josia, die seun van Sefanja. Daar sal jy Geldai, Tobija en Jedaja kry wat nou net uit Babel teruggekom het. Hulle is vroeër teen hulle wil soontoe gevat. Vat die geskenke van silwer en goud wat hulle saamgebring het.

11. Maak dan krone van die silwer en die goud en sit een op Jesua die hoofpriester se kop. Jesua is die seun van Josadak.

12. “Sê dan vir hom: Die Here wat sterker is as alles en almal sê: ’n Man sal na vore kom wat ‘jong tak’ genoem word. Hy kom uit die familie van koning Dawid. Hy sal die tempel van die Here weer bou.

13. Maar hy sal nie net die tempel bou nie, die mense sal hom as ’n koning sien. Hy sal op sy troon sit en die land regeer. ’n Priester sal saam met hom regeer. Hy en die priester sal goed oor die weg kom en in vrede saamwerk.

14. “Die krone moet in die tempel van die Here bly as aandenkings aan Geldai, Tobija, Jedaja en Josia. Hulle het die krone mos as geskenke gegee.

15. “Mense sal van oral af kom om die tempel van die Here te help bou. As dit gebeur, sal dit weer vir julle ’n bewys wees dat die Here my gestuur het. Ek praat nie sommer net wat in my eie kop opkom nie. Hierdie goeie dinge sal gebeur as julle mooi versigtig alles doen wat die Here wil hê julle moet doen.”