hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 4 Die Boodskap (DB)

Die vyfde droom: die kandelaar

1. Die engel wat tot nou toe met my gepraat het, het teruggekom en my wakker gemaak asof ek aan die slaap was.

2. Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” Ek het geantwoord: “Ek sien ’n kandelaar wat heeltemal van goud gemaak is. Bo-op die kandelaar is ’n bak waarin olie kom. Die kandelaar het sewe lampe met pypies aan om die olie na die lampe te laat loop.

3. Verder was daar ook twee olyfbome, een links en die ander regs van die kandelaar.”

4. Ek vra toe vir die engel wat met my praat: Wat beteken alles wat ek sien?

5. Die engel het my gevra: “Weet jy nie wat dit beteken nie?”

6. Toe begin hy vir my verduidelik. Die Here wil vir Serubbabel sê: “Jy sal nie suksesvol wees deur militêre mag te gebruik nie. Dit sal jou ook nie help om op jou eie krag staat te maak nie. Dit is die Gees van die Here wat vir jou sukses sal gee. Dit is wat die Here sê!”

7. Geen probleem of struikelblok sal in sy pad staan nie. Al voel dit soos ’n berg wat in sy pad staan, dit sal gelyk gemaak word soos ’n plat vlakte. Wanneer Serubbabel die laaste steen in die tempel inbou, sal die mense skree: “Mag dit goed gaan, mag dit goed gaan met die tempel!”

8. Daarna het die Here weer met my gepraat en gesê wat ek moet sê:

9. “Serubbabel het die fondamente van hierdie tempel gelê. Hy sal die tempel klaar bou.” Die dag as dit gebeur, sal julle weet dat die Here my gestuur het.

10. Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie. Die mense sal rede hê om bly te wees as hulle sien dat Serubbabel met die bouwerk aangaan. Om weer tot die droom van die kandelaar terug te kom: die engel het verduidelik: “Die sewe lampe is soos die oë van die Here wat die hele wêreld deursoek.”

11. Toe vra ek weer vir die engel: Wat beteken die twee olyfbome wat aan weerskante van die kandelaar staan?

12. Ek het hom ’n tweede keer gevra: Wat beteken die twee olyftakke wat olie laat uitloop deur twee goue pypies?

13. Weet jy nie? het hy gevra. Ek het hom geantwoord: “Nee, Meneer, ek weet nie.”

14. Toe het hy vir my verduidelik: “Die twee olyftakke stel die twee mense voor wat die Here uitgekies het om Hom te help. Hy is die Here van die hele aarde. Om te wys dat Hy hulle gekies het om Hom te help, het Hy olie op hulle kop laat gooi. Hy het hulle met olie laat salf.”