hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 9 Die Boodskap (DB)

Straf vir Israel se vyande

1. Die Here se straf.Die Here sê die volgende oor die land Gadrak en oor die stad Damaskus: Die hele wêreld se oë is op wat die Here doen, nie net die stamme van Israel nie.

2. Wat Hy te sê het, is ook bedoel vir Hamat, Damaskus se buurstad. Dit raak selfs ook die stede Tirus en Sidon, al dink hulle ook hulle mense is so slim en handig.

3. Die mense van Tirus het vir hulle ’n baie veilige wegkruipplek gebou. Verder het hulle ook baie silwer en goud bymekaargemaak. Dit is so baie dat dit amper net soveel soos die stof en die modder in die strate is.

4. Maar kyk wat gaan gebeur. Die Here gaan al Tirus se rykdom en skatte wegvat en dit in die Middellandse See gooi. So sal Hy die mag van die stad breek. Daarna sal die stad in ’n brand verwoes word.

5. Wat gebeur, raak al die Filistynse stede. Askelon se mense sal bang word as hulle sien wat met Tirus gebeur. Die mense in Gasa en Ekron sal aan die bewe gaan omdat hulle bang is. Al die goed wat hulle gedink het belangrik is in die lewe, verdwyn net skielik. Gasa sal sy koning verloor en Askelon sal ’n verlate stad sonder enige mense wees.

6. Asdod sal deur mense van gemengde afkoms oorgeneem word.Die Here sê: “Die Filistyne dink verskriklik baie van hulleself. Ek sal hulle nederig maak.

7. Hulle eet vleis met bloed in. Ek sal dit uit hulle mond uitruk. Ek sal ook keer dat hulle ander kos eet wat Ek verbied het.”Die Filistyne wat oorbly, sal deel van die Here se volk word. Hulle sal soos ’n nuwe stam in Juda wees. Die mense van Ekron sal net soos die Jebusiete destyds in die volk van die Here opgeneem word.

8. Die Here sê: “Ek sal my land en alles wat aan My behoort, baie goed oppas. Ek sal dit beskerm teen mense wat die land wil inval. Ek sal nie toelaat dat enige vreemde mag weer my volk aanval nie. Ek sal self my oog oor hulle hou en hulle goed oppas.”

Die koning kom

9. Wees baie bly, mense van Sion! Skree hard, inwoners van Jerusalem! Julle koning is op pad na julle toe. Hy tree altyd regverdig op en hy is ’n wenner. En tog is hy nederig. Hy ry sommer op ’n donkie.

10. Die Here sê: “Ek sal al die goed wegmaak wat hulle in Israel en in Jerusalem gebruik om mee oorlog te maak. Dit is dinge soos strydwaens, perde en pyle en boë. Ek sal dit alles vernietig. Julle koning sal ook vir die nasies vrede bring. Hy sal van die een see tot die ander see, van die Eufraatrivier tot by die einde van die aarde, koning wees.”

11. Die Here sê verder ook: “Ek was baie ernstig met die ooreenkoms wat Ek met julle gemaak het. En om te bewys hoe sterk hierdie ooreenkoms is, is dit met bloed gesluit. Omdat Ek My in hierdie ooreenkoms laat bind het, sal Ek julle mense vrymaak uit ballingskap. Die inwoners van Juda sal nie langer as gevangenes in ’n vreemde land aangehou word nie.

12. Daar is hoop vir julle wat gevang en uit julle land weggevat is. Kom terug na julle land toe sodat julle veilig kan wees! Ek belowe julle vandag dat Ek julle dubbel soveel sal gee as wat julle vroeër gehad het.

13. Soos ’n soldaat ’n pyl en boog en ’n swaard as wapens in ’n geveg gebruik, so sal Ek met Juda, Israel en Jerusalem maak. Ek sal hulle as my wapens teen die Grieke gebruik.”

14. Die Here sal bokant sy mense gesien word. Sy pyl sal soos ’n weerligstraal uitskiet. Hy sal op die trompet blaas om te wys dat die geveg begin het. Soos ’n stormwind uit die suide val Hy dan die vyand aan.

15. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sal sorg dat niemand sy volk kwaad aandoen nie. Hulle sal die vyande met eenvoudige wapens wen. Hulle sal soos dronk mense skree terwyl hulle baklei en hulle vyande doodmaak. Hulle klere sal vol bloed wees van die bloedige geveg met die vyand.

16. Die dag wanneer hierdie geveg uitbreek, sal die Here hulle God hulle red. Hy sal hulle beskerm en versorg soos ’n herder met sy skape maak. Hulle sal ook soos ’n juweel in ’n koning se kroon wees. Hulle sal blink en skitter in sy land.

17. Hoe wonderlik en mooi sal hulle nie wees nie! Die jongmense sal sterk en gesond wees omdat daar meer as genoeg koring en wyn is.