hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 12 Die Boodskap (DB)

Beskerming vir Juda en Jerusalem

1. Die Here sê wat met Israel gaan gebeur.Dit is die Here wat die uitgestrekte hemel gemaak en die fondasie van die aarde gelê het. Hy gee vir mense lewe.

2. Verder sê die Here: “Die nasies in die omgewing sal Jerusalem probeer inval. Maar Ek gaan sorg dat Jerusalem so ’n bedwelmende uitwerking op hulle sal hê dat hulle soos ’n klomp dronk mense sal wees. Wanneer Jerusalem ingeval word, sal al die ander stede in Juda ook ingeval word.

3. Al die nasies van die wêreld sal hulle kragte bymekaarsit teen Jerusalem, maar Ek sal Jerusalem soos ’n swaar rotsblok maak. As hulle hierdie rots probeer oplig, sal hulle seerkry.”

4. Die Here sê: “Die dag wanneer hierdie nasies Jerusalem aanval, sal Ek hulle perde op hol jaag. Ek sal sorg dat hulle niks kan sien nie. Ek sal ook dat die ruiters kop verloor. Maar oor die mense van Juda sal Ek ’n oog hou en hulle mooi oppas.

5. Die families van Juda sal dan erken: ‘Die Here is sterker as alles en almal. Hy gee aan die mense van Jerusalem moed en durf, want Hy is hulle God.’”

6. Die Here sê: “Wanneer die verwagte tyd kom, sal Ek die families van Juda soos ’n vuur maak wat ’n hoop hout aan die brand steek. Hulle sal soos ’n fakkel wees wat gerwe koring aan die brand steek. Juda se mense sal al die volke om hulle soos ’n vuur verbrand, maar Jerusalem sal net so sonder enige skade bly staan.”

7. Die Here sal eers die mense van Juda vrymaak wat nie in Jerusalem bly nie. Hy doen dit sodat die mense van Jerusalem en koning Dawid se familie nie meer eer kry as die res van Juda se mense nie.

8. In dié tyd sal die Here die mense van Jerusalem beskerm. Die swakste mense onder hulle sal so sterk wees soos koning Dawid. Op sy beurt sal Dawid se nageslag soos God self wees of soos die engel van die Here wat hulle lei.

9. Die Here sê: “Ek sal al die volke vernietig wat teen Jerusalem in opstand kom!”

Israel se mense huil

10. “Ek sal in hierdie tyd Dawid se kinders en hulle kinders en ook die inwoners van Jerusalem mense maak wat omgee vir ander mense. Ek sal hulle ook mense maak wat graag wil bid. Hulle sal dan weet dat Ek die een is wat hulle seergemaak het soos iemand wat hulle met ’n wapen gesteek het. Hulle sal vreeslik huil, soos mense wat huil oor hulle enigste kind of oudste seun wat dood is.

11. “Die dag as hierdie dinge gebeur, sal hulle in Jerusalem net so erg huil soos die mense gehuil het oor Hadad-Rimmon op die vlakte van Megiddo.

12. Oor die hele Israel sal die mense hartseer huil. Die families in Israel sal elkeen op sy eie treur. Dit sluit in die families van Dawid, Natan,

13. Levi en Simeï, elkeen op sy eie.

14. So sal al die ander families in Israel ook maak. Hulle sal almal treur en huil, die mans eenkant en die vroue in hulle groepe saam.”