hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 2 Die Boodskap (DB)

Die derde droom: die man met die maatband

1. Vir ’n derde keer het ek gedroom. Dié keer het ek ’n man met ’n maatband in sy hand gesien.

2. Ek het vir hom gevra: Waarheen is jy op pad? Hy het my geantwoord: “Ek gaan Jerusalem opmeet. Ek wil kyk hoe lank en hoe breed dit is.”

3. Die engel wat vroeër met my gepraat het, het op pad Jerusalem toe ’n ander engel raakgeloop.

4. Hy sê toe vir hom: “Hardloop gou en gaan sê vir die jongman met die maatband: Jerusalem gaan nog uit sy nate bars. Daar gaan so baie mense en diere wees dat hulle buite die stad sal moet bly.”

5. Die Here sê: “Ek sal hulle beskerm. Ek sal vir hulle soos ’n muur van vuur wees wat om hulle gebou is. Binne-in die stad sal hulle weet dat Ek daar is. Hulle sal weet dat Ek groot en sterk is.”

6. Die Here sê: “Maak dat julle wegkom uit die noorde. Ek is daarvoor verantwoordelik dat julle in al vier die windrigtings verstrooi is.

7. Julle wat in Babilonië bly, maak dat julle daar wegkom. Vlug na Jerusalem toe terug!”

8. Die Here het mag oor alles en almal. ’n Mens voel sy magtige teenwoordigheid aan. Hy is die Een wat my met ’n boodskap na die nasies stuur wat julle onderdruk het. Hy sê: “Julle is my oogappel. Van al die dinge wat Ek het, is julle die kosbaarste. Wie aan julle vat, vat aan wat vir My belangrik is.

9. Ek sal self teen hierdie nasies baklei. Hulle slawe sal hulle base word.” Julle sal weet dat die Here my gestuur het wanneer die dinge wat ek gesê het, waar begin word.

10. Die Here sê vir die mense van Jerusalem: “Sing en wees bly, want Ek kom weer onder julle bly.”

11. In dié tyd sal baie van die nasies kant kies vir die Here. Hulle sal dan deel wees van die mense wat aan Hom behoort. Die Here belowe dat Hy in Jerusalem sal bly. Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, sal julle weet dat ek goed nie uit my duim uitsuig nie. Dit is die Here wat my gestuur het.

12. Juda is die land wat die Here vir Hom uitgesoek het. Die grond is sy erfgrond. Hy sal ook weer Jerusalem sy eie blyplek maak.

13. Uit respek vir die Here moet mense tjoepstil wees. Hy gaan iets ongeloofliks doen.