hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 5 Die Boodskap (DB)

Die sesde droom: ’n boek

1. Ek het weer ’n droom gehad. Ek het ’n boek gesien wat deur die lug vlieg. Dit was die soort boek wat ’n mens oprol.

2. Die engel het vir my gevra: “Wat sien jy?” Ek het geantwoord: ’n Boek wat deur die lug vlieg. As ’n mens die boek afrol, is dit nege meter lank en vier en ’n half meter breed.

3. Die engel het vir my gesê: “Die mense van Juda steel en sweer vals. Die Here gaan hierdie verkeerde dinge straf. Lees die boek, die straf daarvoor is in die boek geskryf. Daar staan: Almal wat steel en vals sweer, sal uit die land weggejaag word. Die boek is geskryf sodat al die mense van die wêreld dit kan lees.”

4. Die Here wat oor alles en almal heers, sê sy straf sal elke huis raak waar iemand iets gesteel het. Dit raak ook die huise van die mense wat vals sweer. Hulle praat kastig die waarheid en gebruik die Naam van die Here om hierdie sogenaamde waarheid te bewys. Die Here sal hierdie mense swaar straf: hulle huise sal heeltemal verwoes word. Daar sal niks van die hout en die stene van die huise oorbly nie.

Die sewende droom: ’n mandjie

5. Die engel het weer met my kom praat en gesê: “Kyk op! Iets anders is op pad.”

6. Ek vra toe: Wat is dit? Sy antwoord was: “Dit is ’n mandjie wat gebruik word om graan mee af te meet. Dit is vol al die verkeerde goed wat die mense in die land gedoen het.”

7. Die deksel van die mandjie was van lood gemaak. Toe iemand die deksel oplig, sit daar ’n vrou in die mandjie.

8. Die engel het gesê: “As julle na haar kyk, sien julle alles wat sleg is.” Hy het haar in die mandjie teruggestamp en die swaar deksel toegemaak.

9. Toe ek weer opkyk, sien ek twee vroue met vlerke wat aangevlieg kom. Hulle het in die wind gesweef. Hulle vlerke het soos ’n ooievaar s’n gelyk. Hulle het die mandjie opgetel en daarmee weggevlieg die lug in.

10. Ek het vir die engel gevra: Waarheen vat hulle die mandjie?

11. Hy het geantwoord: “Babel toe. Hulle gaan daar ’n tempel vir die mandjie bou. As die bouwerk klaar is, beplan hulle om die mandjie daarin te sit.”