Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 7:5-20 Die Boodskap (DB)

5. So sê die Here, die God van Esegiël: “Jy sal met een hou na die ander getref word tot jy vuisvoos is.

6. Jou einde is op jou. Jy staar die dood in die gesig. Dis klaar met jou!

7. Die dag dat jy vernietig gaan word, is voor die deur, Israel. Die tyd van straf het vir jou aangebreek. Groot moeilikheid wag vir jou. Niemand sal nou van vreugde uitroep nie. Nee, jy sal net hoor hoe mense vol vrees skreeu om hulp.

8. Ek gaan my humeur binnekort met jou verloor. Dan gaan Ek jou straf vir al die slegte dinge wat jy gedoen het.

9. Ek sal jou nie spaar nie, en Ek sal jou ook nie jammer kry nie. Ek sal jou terugbetaal vir al die vieslike dade wat jy gedoen het. Dan sal jy weet dat dit Ek, die Here, is wat jou so slaan.

10. “Die dag het aangebreek dat Ek jou gaan veroordeel. Jy gaan heeltemal vernietig word. Die mense se slegte dade was nog nooit so baie soos nou nie, en dan is hulle nogal ewe trots op hulleself!

11. Hulle het ander mense gewelddadig behandel, en nou sal hulle gewelddadig behandel word om hulle terug te kry vir al hulle slegte dade. Nie een van daardie slegte mense wat so trots op hulself is, sal die ramp oorleef wat Ek stuur nie. Hulle sal alles verloor wat hulle besit.

12. Ja, die dag dat die oordeel aanbreek, het nou gekom. Dit is vandag. Mense wat dink dat hulle vandag nog iewers ’n winskoop raakgeloop het in ’n saketransaksie, moenie daaroor bly wees nie. En mense wat besigheid doen en ’n verlies gemaak het, moenie daaroor huil nie. Want hulle almal gaan my straf ervaar.

13. En as enigiemand wat besigheid doen die ramp sou oorleef, sal hulle in elk geval nooit weer kan terugkeer na hulle besigheid nie. Want wat God gesê het, geld vir almal. Hulle is almal ewe skuldig voor My oor hulle slegte dade. Niemand sal op die ou end bly lewe nie.

14. “Die hele weermag van Israel is opgeroep om te kom veg, maar die geveg sal nie eens begin nie. Want voor jy kan begin veg, tref my straf almal wat in die land woon.

15. Almal wat uit die stad wegvlug, sal deur vyande rondom die stad doodgemaak word. En die mense wat in die stad bly, sal doodgaan van hongersnood en dodelike siektes.

16. Die paar mense wat oorleef en na die berge vlug, sal soos tortelduiwe klink wat koer soos hulle huil oor hulle sondes.

17. Mense sal nie hulle hande kan optel nie en hulle bene sal kragteloos onder hulle padgee.

18. Hulle sal hulle aantrek asof hulle op pad is na ’n begrafnis. Hulle sal heeldag bang wees. Hulle sal bewe vir enigiets wat hulle sien. En hulle sal hulle klaarmaak om as gevangenes na ’n vreemde land weggevat te word.

19. “Hulle sal hulle geld weggooi omdat dit niks meer werd sal wees nie. Geen geld sal ’n mens in elk geval kan red as die Here vir hom kwaad word nie. Hulle geld sal hulle nie kan help nie. Hulle sal nie daarmee kos kan koop nie, want daar sal geen kos wees nie. Dit is juis oor hulle geld dat hulle soveel slegte dinge aangevang het.

20. Hulle was so trots op al hulle goue juweliersware. Dis dieselfde juweliersware wat hulle gesmelt het om afgode te maak wat afskuwelik en walglik is. Dit is hoekom Ek nou sorg dat hulle geld en besittings waardeloos en walglik vir hulle sal word.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 7