Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:15-28 Die Boodskap (DB)

15. As iemand hulle iets geskuld het, het hulle dalk iets waardevols gevat totdat daardie mens wat by hulle geleen het, die skuld kan betaal. Nou gee hierdie mense daardie waardevolle besittings terug. En as hulle iets gesteel het, gaan gee hulle dit ook terug. Hierdie mense doen wat Ek beveel. Ek sal hierdie mense dan nie doodmaak nie. Hulle sal lewe.

16. Ek sal hulle nie die slegte dinge wat hulle vroeër gedoen het, verwyt nie. Ek sal hulle nie daarvoor straf nie. Ek sal nooit eens weer dink aan die slegte wat hulle gedoen het nie, want hulle het nou begin doen wat goed en reg is. Daarom sal hulle vir seker lewe.

17. “Jou mense sê: ‘Die Here maak nie reg met mense nie!’ Maar dit is hierdie mense wat nie reg maak nie.

18. Ek sê weer: slegte mense sal doodgemaak word oor die slegte dinge wat hulle doen. As mense wat die goeie doen, die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word.

19. Maar as mense wat sleg doen, ophou daarmee en begin doen wat Ek sê, sal hulle lewe.

20. En nou sê julle dat Ek nie reg doen nie? Dit terwyl Ek oor elke mens sal oordeel volgens wat hy gedoen het!”

21. Op die agtste Januarie 585 v.C., toe ons al twaalf jaar lank gevangenes in ’n vreemde land was, het ’n man by my aangekom. Hy het uit Jerusalem gevlug. Hy het kom sê: “Jerusalem het geval!”

22. Die vorige aand het die Here Hom op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Toe kon ek weer praat, want ek was mos vir ’n lang ruk stom. Toe hierdie man die volgende oggend by my aankom, kon ek met hom praat.

23. Toe het die Here my beveel wat om te sê.

24. “Mens, almal wat tussen die stede van Juda bly wat in puin lê, sê: ‘Die land is ons s’n. Abraham was net een mens, en die Here het die hele land vir hom gegee. Ons is tog baie meer as hy. Die land is nou ons eiendom!’

25. “Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê: Julle hou aan om my voorskrifte te verwerp. Julle eet julle vleis op maniere wat Ek beveel het julle nie mag nie. Julle offer saam met die mense van ander nasies aan hulle afgode. En julle hardloop na die afgode toe as julle hulp nodig het. Julle maak mense dood wat onskuldig is. En nou eis julle dat Ek hierdie land vir julle moet gee? Julle wil my land vir julleself hê?

26. Julle is ’n klomp moordenaars! Julle buig voor afgode! Julle slaap by ander mans se vroue! Moet Ek dan nou hierdie land vir julle gee?

27. “Sê vir hierdie spul mense wat die Here, die God van Esegiël, van hulle dink: So seker as wat Ek leef, julle sal daar tussen julle stede wat net bouvalle is, doodgemaak word. Ek sorg dat julle in die oorlog doodgaan. As iemand in die oop veld bly, sal die wilde diere hom vang en opvreet. Daardie mense wat in grotte en ander veilige plekke probeer wegkruip, sal van siektes doodgaan.

28. Ek sal julle land vernietig. Julle sal niks oorhê waarop julle trots kan wees nie. Julle het gedink julle is so sterk. Daarvan sal niks oorbly nie. Ek breek selfs jou berge af sodat niemand meer oor die berge hoef te trek nie. Jou land sal gelyk soos die see wees as Ek daarmee klaar is. Ek straf selfs jou land oor jou slegte dade.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33