Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:48-65 Die Boodskap (DB)

48. Daarom sal jy vir jou vyande moet werk. Die Here sal hulle teen jou stuur. Jy sal honger en dors wees en sonder klere. Jy sal niks hê wat jy nodig het nie. Jou vyande sal jou sleg behandel totdat jy uiteindelik vernietig is en daar niks van jou oorbly nie.

49. “Die Here sal ’n nasie van ver af bring om teen jou te veg. Hulle sal skielik op jou toesak soos ’n arend wat uit die lug uit op sy prooi afduik. Jy sal hierdie nasie se taal nie verstaan nie.

50. Hulle sal wrede mense wees wat jou voor die voet uitroei en vir niks of niemand jammer is nie. Hulle sal nie eens die oumense of die klein kindertjies spaar nie.

51. Hulle soldate sal so baie wees dat hulle al jou vee en al jou oeste nodig sal hê om te eet. En jy sal van honger doodgaan. As hulle met jou klaar is, sal jy niks nuwe wyn of olyfolie of kalwers of lammers oorhê nie. Hulle sal jou vernietig.

52. “Hulle sal jou stede aanval tot hulle al die mure om die stede afgebreek het. Jy het mos gedink jy is veilig omdat daar sulke hoë mure om jou stede is! Wel, daar sal nie ’n enkele stad bly staan in die land wat die Here vir jou gegee het om in te woon nie.

53. As hulle om jou stede saamtrek sodat jy nie kan ingaan of uitgaan nie, sal die kos later opraak. Dit sal dan so sleg gaan dat julle julle eie seuns en dogters sal moet eet om te oorleef. Dit is die seuns en dogters wat die Here vir julle gegee het.

54. Die saggeaardste man onder julle sal dan nie omgee vir sy eie broer of vir sy vrou wat hy baie liefhet, of vir sy kinders wat nog leef nie.

55. Hy sal weier om vir hulle ’n stukkie te gee van die vleis wat hy eet; die vleis van sy eie kinders. Hy sal baie honger wees en hy sal niks anders hê om te eet in hierdie tyd nie.

56. Die saggeaardste en mees verfynde vrou onder julle, wat voorheen so baie van haarself gedink het dat sy nie eens haar voete wou vuil maak deur in ’n stofstraat te stap nie, sal wreed word teenoor haar eie man en haar eie seun en dogter.

57. Sy sal haar nageboorte en haar pasgebore baba wegsteek sodat hulle dit nie saam met haar kan eet nie. Sy sal die baba eet waar niemand haar kan sien nie. Sy sal niks anders hê om te eet in hierdie tyd wanneer julle vyande julle stede aanval en julle van die honger doodgaan nie.”

58. “Jy weier dalk om te doen wat die Here julle beveel het en wat in hierdie boek wat jy in jou hand vashou, opgeskryf is. Jy besluit dalk om nie die Here wat baie sterk is, te dien of aan Hom respek te bewys nie.

59. Dan sal die Here jou en jou kinders met verskriklike rampe en ellendes straf. Die rampe sal aanhou en aanhou. Dit sal al slegter met jou gaan. Jy sal aan ongeneeslike kankers ly.

60. Ja, die Here sal al die siektes wat jy in Egipte gesien het, oor jou bring. Jy was so bang vir hierdie siektes. Nou sal jy daarvan doodgaan.

61. Die Here sal elke siekte en plaag wat daar op aarde is, gebruik om jou lewe in hel te verander. Selfs die siektes wat nie in hierdie boek genoem word nie, sal jou tref. Dit sal aanhou totdat jy later heeltemal uitgeroei is.

62. Selfs al is jou mense so baie soos die sterre in die hemel, sal daar baie min van hulle oorleef omdat jy nie wou luister toe die Here jou God met jou gepraat het nie.

63. “Vroeër was dit vir die Here lekker om jou te help. Hy het dit geniet om goed aan jou te doen. Jy het voorspoed beleef en jou volk het groot geword. Maar nou sal dit vir die Here lekker wees om jou te vernietig. Jy sal verdwyn uit die land waar jy nou gaan bly.

64. Die Here sal jou uit daardie land wegvat en jou oor al die lande wat daar op die aarde is, verstrooi. In daardie vreemde lande sal julle vreemde gode moet aanbid waarvan julle en julle oupas nog nie eens gehoor het nie. Daardie mense se gode is van hout en klip gemaak.

65. Tussen daardie mense sal julle nooit veilig wees nie. Die Here sal maak dat julle heeldag bang en benoud sal wees. Julle oë sal ingee en swak word. En julle sal so wanhopig word dat julle nie meer kans sien om die toekoms in te gaan nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28