Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 35:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Alles was gereed vir die viering van die paasfees. Die priesters het op hulle plekke gestaan en die Leviete het in hulle afdelings aangetree soos die koning beveel het.

11. Die Leviete het die paaslammers geslag. Hulle het die bloed vir die priesters gegee, wat dit teen die altaar uitgegooi het, terwyl die Leviete die lammers afgeslag en voorberei het.

12. Hulle het die deel wat verbrand moes word, eenkant gesit om dit vir die gewone mense volgens hulle familiegroepe te gee. Hulle kon dit dan weer op die voorgeskrewe manier offer, soos die Here deur Moses beveel het. Hulle het dieselfde met die beeste gedoen.

13. Hulle het die paaslammers oor die kole gebraai soos dit voorgeskryf is en die ander gawes is in potte, ketels en panne gekook. Alles is so vinnig moontlik onder die gewone mense versprei, sodat hulle kon eet.

14. Toe dit klaar was, het die Leviete ook vir hulleself en vir die priesters kos gemaak. Dit was nodig omdat die priesters uit die Aäronfamilie tot laat in die nag nog besig was om die brandoffers en die vetstukke wat geoffer moes word, te verbrand. Dit is hoekom die Leviete vir hulleself en vir die Aäronitiese priesters die paasete voorberei het.

15. Die sangers van die Asaffamilie was op hulle pos volgens die voorskrifte van Dawid, en Asaf, Heman en Jedutun (hy is die koning se siener) was ook daar. Die poortwagte was elkeen by die poort waar hulle moes wees. Dit was nie vir hulle nodig om hulle poste te verlaat nie, want hulle ampsgenote, die Leviete, het vir hulle gesorg.

16. Al die brandoffers is op die Here se altaar verbrand, volgens die opdrag van koning Josia.

17. Die fees van die ongesuurde brood is ook saam met die paasfees sewe dae lank gevier.

18. ’n Paasfees soos dié is daar nie sedert die dae van die profeet Samuel in Israel gehou nie. Geen koning van Israel het die paasfees nog ooit so gevier soos dié een waarin Josia die priesters, die Leviete, almal van Juda en Israel én die inwoners van Jerusalem betrek het nie.

19. Dié paasfees is in Josia se agtiende regeringsjaar gehou.

20. Josia het al die werk voltooi wat hy aan die tempel wou doen. Daarna het koning Neko van Egipte met sy leër verbygetrek om by Karkemis aan die Eufraatrivier te gaan oorlog maak. Josia het besluit om sy opmars te gaan keer.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 35