Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 7:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Hulle is toe terug stad toe. Hulle het die stad se poortwagters geroep en vertel wat in die vyand se kamp gebeur het. Hulle het gesê: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, was daar geen mens in sig nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente wat daar staan.”

11. Die poortwagters het die boodskap oorgedra tot by die koning in sy paleis.

12. Toe die koning die nuus kry, het hy in die middel van die nag opgestaan. Hy het vir sy offisiere gesê: “Laat ek julle vertel wat die Arameërs se plan is. Hulle weet tog dat ons hier in die stad van die honger vergaan. Nou het hulle hulle kamp ontruim en in die veld gaan wegkruip. Hulle probeer ons uit die stad uitlok om ons gevange te neem en die stad dan in te neem.”

13. Een van die offisiere het gevra: “Moet ons nie tog maar verkenners uitstuur om te gaan kyk wat gebeur het nie? Laat hulle vyf van die perde wat oor is, vat en gaan kyk. As hulle iets oorkom, is dit nie veel erger as wanneer hulle hier bly en saam met ons doodgaan nie.”

14. Die koning het toe twee strydwaens laat inspan. Hy het ’n paar verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk wat aangaan.”

15. Hulle is toe daar weg en het die spoor van die Aramese leër gevolg tot by die Jordaanrivier. Die pad waarlangs hulle gevlug het, was besaai met klere en goed wat die Aramese soldate neergegooi het om vinniger te kan vlug. Die verkenners het teruggekom en vir die koning vertel wat hulle gesien het.

16. Die mense van Samaria het uit die stad uitgestorm om die Aramese kamp te gaan plunder. Só het dit waar geword dat ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel net ’n paar gram silwer gekos het.

17. In die chaos het die koning die offisier wat saam met hom was, aangestel om orde in die poortgebied van die stad te handhaaf. Die skare het hom egter daar op die plein by die poort doodgetrap.So het alles gebeur soos Elisa voorspel het toe die koning die vorige dag na sy huis toe gekom het.

18. Die man van God het toe vir die koning gesê: “Môre, omtrent hierdie tyd, sal ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel op Samaria se mark net ’n paar gram silwer kos.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 7