Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:7-26 Die Boodskap (DB)

7. Dit was Amasia wat 10 000 Edomiete in die Soutdal verslaan het. Hy het ook die dorp Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit nou nog genoem word.

8. Op ’n dag het Amasia boodskappers na koning Joas van Israel, die seun van Joahas en kleinseun van Jehu, gestuur. Die boodskap was: “Kom, laat ons teen mekaar veg!”

9. Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap.

10. Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou én die mense van Juda net ongeluk kan bring?”

11. Amasia wou nie luister nie. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg en hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak.

12. Juda is deur Israel oorwin en die soldate het huis toe gevlug.

13. Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en verder getrek Jerusalem toe. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort.

14. Toe het hy die stad geplunder: hy het al die goud en silwer wat hy kon kry, gevat, asook die waardevolle goed in die tempel en die stoorkamers van die paleis. Hy het dit, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem.

15. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

16. Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe. Jerobeam II het hom opgevolg.

17. Amasia het ná Joas se dood nog vyftien jaar lank gelewe.

18. Die res van Amasia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

19. Daar is ’n komplot in Jerusalem teen Amasia gesmee en hy het na Lagis toe gevlug. Die samesweerders het die moordenaars agter hom aangestuur en hom daar in Lagis vermoor.

20. Hulle het sy lyk op perde na Jerusalem toe teruggeneem, waar hy in sy familiegraf in die Stad van Dawid begrawe is.

21. Al die mense van Juda het toe Amasia se sestienjarige seun Asarja koning gemaak in sy pa se plek.

22. Na sy pa se dood het Asarja die stad Elat herbou en dit vir Juda teruggeneem.

23. In die vyftiende jaar wat koning Amasia in Juda regeer het, het Jerobeam II, die seun van Joas, koning in Israel geword. Hy het 41 jaar in Samaria regeer.

24. Die Here was nie tevrede met Jerobeam II se optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.

25. Maar tog het hy al die grond wat Israel verloor het, teruggeneem. Hy het Israel se grense van Lebo-Hamat af tot by die Dooie See herstel.Dit het gebeur volgens die uitspraak van die Here, die God van Israel, deur die profeet Jona, die seun van Amittai, uit die dorp Gat-Gefer.

26. Die Here het die bitter lyding van die Israeliete gesien. Hulle was heeltemal gedaan, want daar was niemand wat hulle kon help nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14