Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8:7-24 Die Boodskap (DB)

7. Mense wat heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God. Hulle steur hulle nie aan wat Hy in die wet sê nie. Trouens, hulle verroer nie eens ’n vinger om dit te probeer gehoorsaam nie.

8. Omdat die sonde oor hulle heers, kan hulle glad nie doen wat God vra nie.

9. Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie - so eenvoudig is dit.

10. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan - dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal - sal die Gees julle op ’n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is.

11. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak.

12. My broers en susters, omdat die Heilige Gees in ons bly, mag ons nie langer in die sonde rondlê nie. Ons is dit aan Hom verskuldig.

13. As julle kies om aan te hou sondig, moet julle weet dat julle sonder God sal sterf. Maar as julle toelaat dat die Heilige Gees met julle sondige dade afreken, sal julle vir altyd saam met God lewe.

14. Almal wat hulle deur die Heilige Gees laat lei, is kinders van God. As julle hierdie keuse maak, is julle nie langer slawe van dinge soos angs en vrees nie.

15. Onthou: God het sy Heilige Gees gegee aan julle wat in Hom glo. Dit is Hy wat julle kinders van God gemaak het. Verder is dit ook Hy wat nou ’n diep verlange na God in julle binneste wakker maak. Die Gees roep voortdurend in julle binneste uit: “Vader, liefdevolle Vader!” Hy sorg dat daar ’n onbreekbare band tussen God en julle is.

16. Die Gees oortuig ons diep in ons binneste dat ons regtig God se kinders is.

17. Omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename. Ons erf saam met Christus alles wat God beloof het. Terwyl ons op ons erfporsie wag, kry ons baie swaar hier op aarde. Ons ervaar dieselfde tipe swaarkry as wat Christus beleef het toe Hy nog op aarde was. Maar ons weet dat as ons nou saam met Hom ly, ons ook saam met Hom in sy heerlikheid in God se nuwe wêreld sal bly.

18. Ek is van een saak oortuig: al ons swaarkry weeg glad nie op teen die wonderlike lewe wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie.

19. Die res van God se skepping sien ook baie uit na daardie groot dag wanneer Hy voor almal sal sê dat ons sy kinders is.

20. Want tot nou toe kry die skepping baie swaar. Die skepping het nie self gekies om so te ly nie. Nee, dit is die gevolg van God se straf op die sonde. Tog is daar hoop.

21. Die skepping weet dat God dit ook eendag sal bevry van hierdie verskriklike lyding. Op daardie dag wanneer God al sy kinders eens en vir altyd kom verlos, sal die skepping ook vrygemaak word. Dan sal die skepping God se heerlikheid op die regte manier weerkaats. Vir altyd.

22. Intussen steun en kreun die ganse skepping tot vandag toe soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee.

23. Maar dit is nie net die skepping wat swaarkry nie. Ons kry ook swaar. Al het ons die Heilige Gees as ’n offer uit God se hand ontvang om ons te verseker dat God se nuwe wêreld op ons wag, sug en kla ons ook. Ons sien uit daarna dat God ons van hierdie sterflike bestaan sal kom verlos. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy terugkom en voor almal kom sê dat ons aan Hom behoort.

24. Omdat ons klaar deur God gered is, wéét ons dat ons ’n plek sal hê in sy nuwe wêreld. As ons nou al hierdie nuwe wêreld kon sien, sou ons mos nie heeltyd daarop gewag het nie. ’n Mens sien tog nie uit na iets wat jy reeds het nie, of hoe?

Lees volledige hoofstuk Romeine 8