hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8 Die Boodskap (DB)

Die Heilige Gees bring nuwe lewe

1. Goeie nuus! God se oordeel is vir altyd verby vir elkeen wat aan Christus Jesus behoort.

2. Dit alles is aan die Heilige Gees te danke. Sy nuwe wet waarborg nou splinternuwe lewe in Christus Jesus vir my. Die Gees maak my vry van die neerdrukkende wet van die sonde en die dood. Hy breek daardie magte se houvas op my lewe vir altyd.

3. Wat die wet nooit kon regkry nie, het God reggekry. Hy het geweet dat die wet nie in staat is om ons te verlos nie. Daarvoor is die mag van die sonde in ons lewens heeltemal te groot. Daarom het God besluit om sy eie Seun na ons toe te stuur. Jesus het toe ’n gewone mens geword en tussen ons in hierdie sondaarsnes kom bly. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God persoonlik met die sonde afgereken.

4. Nou kan ons uiteindelik doen wat die wet van ons vra. Ons lewens word nie langer deur die sonde oorheers nie. Nee, die Heilige Gees staan nou aan die stuur van ons lewens.

5. Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde. Maar mense wat toelaat dat die Gees hulle lewens beheer, se koppe is heeltyd besig met dinge wat vir die Gees belangrik is.

6. Mense wie se denke en dade in die greep van die sonde vasgevang is, leef in die dood. Maar mense wie se denke en dade in die greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken ware lewe en vrede.

7. Mense wat heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God. Hulle steur hulle nie aan wat Hy in die wet sê nie. Trouens, hulle verroer nie eens ’n vinger om dit te probeer gehoorsaam nie.

8. Omdat die sonde oor hulle heers, kan hulle glad nie doen wat God vra nie.

9. Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie - so eenvoudig is dit.

10. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan - dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal - sal die Gees julle op ’n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is.

11. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak.

12. My broers en susters, omdat die Heilige Gees in ons bly, mag ons nie langer in die sonde rondlê nie. Ons is dit aan Hom verskuldig.

13. As julle kies om aan te hou sondig, moet julle weet dat julle sonder God sal sterf. Maar as julle toelaat dat die Heilige Gees met julle sondige dade afreken, sal julle vir altyd saam met God lewe.

14. Almal wat hulle deur die Heilige Gees laat lei, is kinders van God. As julle hierdie keuse maak, is julle nie langer slawe van dinge soos angs en vrees nie.

15. Onthou: God het sy Heilige Gees gegee aan julle wat in Hom glo. Dit is Hy wat julle kinders van God gemaak het. Verder is dit ook Hy wat nou ’n diep verlange na God in julle binneste wakker maak. Die Gees roep voortdurend in julle binneste uit: “Vader, liefdevolle Vader!” Hy sorg dat daar ’n onbreekbare band tussen God en julle is.

16. Die Gees oortuig ons diep in ons binneste dat ons regtig God se kinders is.

17. Omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename. Ons erf saam met Christus alles wat God beloof het. Terwyl ons op ons erfporsie wag, kry ons baie swaar hier op aarde. Ons ervaar dieselfde tipe swaarkry as wat Christus beleef het toe Hy nog op aarde was. Maar ons weet dat as ons nou saam met Hom ly, ons ook saam met Hom in sy heerlikheid in God se nuwe wêreld sal bly.

Ons erfporsie wag op ons

18. Ek is van een saak oortuig: al ons swaarkry weeg glad nie op teen die wonderlike lewe wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie.

19. Die res van God se skepping sien ook baie uit na daardie groot dag wanneer Hy voor almal sal sê dat ons sy kinders is.

20. Want tot nou toe kry die skepping baie swaar. Die skepping het nie self gekies om so te ly nie. Nee, dit is die gevolg van God se straf op die sonde. Tog is daar hoop.

21. Die skepping weet dat God dit ook eendag sal bevry van hierdie verskriklike lyding. Op daardie dag wanneer God al sy kinders eens en vir altyd kom verlos, sal die skepping ook vrygemaak word. Dan sal die skepping God se heerlikheid op die regte manier weerkaats. Vir altyd.

22. Intussen steun en kreun die ganse skepping tot vandag toe soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee.

23. Maar dit is nie net die skepping wat swaarkry nie. Ons kry ook swaar. Al het ons die Heilige Gees as ’n offer uit God se hand ontvang om ons te verseker dat God se nuwe wêreld op ons wag, sug en kla ons ook. Ons sien uit daarna dat God ons van hierdie sterflike bestaan sal kom verlos. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy terugkom en voor almal kom sê dat ons aan Hom behoort.

24. Omdat ons klaar deur God gered is, wéét ons dat ons ’n plek sal hê in sy nuwe wêreld. As ons nou al hierdie nuwe wêreld kon sien, sou ons mos nie heeltyd daarop gewag het nie. ’n Mens sien tog nie uit na iets wat jy reeds het nie, of hoe?

25. Maar nou weet ons dat ’n nuwe lewe by God op ons wag, ook al kan ons dit nog nie sien nie. Daarom wag ons geduldig totdat dit aanbreek.

26. Intussen het God sy Gees aan ons gegee om ons in ons swakhede te help. Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat ons moet bid nie.

27. Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons. Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid.

28. Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit.

29. Dit geld natuurlik vir almal wat Hy volgens sy ewige plan gekies het om in Hom te glo. God het elkeen wat Hy vir Hom uitgesoek het se lewe nuutgemaak. Nou kan hulle die beeld van sy Seun weerkaats. Wanneer hulle in Christus se voetspore stap en soos Hy leef, wys dit dat hulle aan God se nuwe familie behoort. En Christus is natuurlik die heel belangrikste Persoon in hierdie nuwe familie.

30. Toe God besluit het wie almal aan sy familie sal behoort, het Hy hulle persoonlik op hulle naam geroep. So het hulle sy kinders geword. Verder het Hy almal wat Hy geroep het, ook vrygespreek van hulle sondes. Toe het God almal wat Hy vrygespreek het, met sy heerlikheid en goedheid oorlaai.

God se liefde is vir altyd by ons

31. Wat is ons gevolgtrekking oor alles wat ons tot nou toe gesê het? Dít: God is aan ons kant. Wie sou dit dan nog waag om teen ons te wees?

32. God gee so baie vir ons om dat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. God het Hom in ons plek laat doodgaan. As Hy bereid was om so ver vir ons te gaan, sal Hy mos enigiets vir ons doen.

33. Wie kan dit nou nog waag om ’n aanklag teen ons in te bring? Niemand nie! Ons is immers deur God self as sy kinders uitgekies. Boonop het Hy ons van al ons sondes vrygespreek.

34. Wie kan dit nou nog waag om ons te veroordeel? Christus Jesus is mos aan ons kant. Hy is in ons plek dood. God het Hom ook weer lewendig gemaak. Christus het nou die heel belangrikste posisie in die hemel. Daarom kan Hy nou ons saak by God suksesvol verdedig.

35. Wat kan ons nou nog skei van Christus se liefde vir ons? Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare, of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge nie! Nie eens die grootste probleme waarvan daar in die Bybel gepraat word, kan ons ooit van Christus skei nie.

36. Daar staan juis in een van die psalms:“Here, ter wille van U word ons heeltyd doodgemaak. Ons is soos ’n klomp slagskape wat reg staan om geslag te word.”

37. Al gebeur hierdie verskriklike dinge met ons, is ons nogtans oorwinnaars. Ons deel in Christus se reuse-oorwinning omdat Hy ons baie liefhet.

38. Daarom is ek heeltemal seker dat niks wat met ons gebeur ons ooit van God se liefde kan skei nie. Nie eens die dood of enigiets in hierdie lewe nie. Ook nie slegte engele of ander bonatuurlike magte nie. Ook nie iets wat dalk vandag of môre met ons kan gebeur nie. Ook nie enige buitengewone kragte nie.

39. Selfs nie die hoogste berg of die diepste see hier op die aarde nie. Letterlik niks in hierdie skepping kan ons ooit van God se liefde skei nie. Hy het vir ons kom wys hoe lief Hy ons het toe ons Here, Christus Jesus, in ons plek doodgegaan het.