hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 7 Die Boodskap (DB)

Julle is gemerk: julle is God s’n

1. Dit was skaars verby of ek sien vier engele. Elkeen het in ’n ander windrigting gestaan. Hulle moes vir God die waai van die winde beheer. Vir eers het hulle die wind teruggehou. Daar het nie ’n luggie getrek of ’n blaartjie geroer nie.

2. Toe sien ek nog ’n engel. Die engel het aangekom uit die rigting waar die son altyd opkom. In sy hand het die engel iets gehad om mense mee te merk wat aan die lewende God behoort. Die engel skree toe vir die ander vier engele sodat hulle duidelik kon hoor:

3. “Wag so ’n bietjie. Moenie dat die wind nou al verwoesting saai oor die aarde en die see en die bome omwaai nie. Laat ons eers die mense merk wat God dien. Ons moet die merk van God wat wys dat hulle sy eiendom is, op hulle voorkop sit.”

4-8. Ek het gehoor hoeveel mense daar was wat gemerk moes word. Daar was 144 000. Hulle het uit elke stam van Israel gekom: 12 000 uit elk van die volgende stamme: Juda, Ruben, Gad, Aser, Naftali, Manasse, Simeon, Levi, Issaskar, Sebulon, Josef en Benjamin.

God sal jou trane afdroog

9. Daarna het ek ’n vreeslike klomp mense gesien. Hulle was so baie, ’n mens kon hulle nie eens tel nie. Hulle het van oral af gekom, maak nie saak waar hulle gebly of watter taal hulle gepraat het nie, hulle was daar voor God se troon en voor die Lam. Hulle was pragtig aangetrek en het baie deftig gelyk met hulle wit klere. Om te wys hoe vol vreugde hulle is, het hulle palmtakke rondgeswaai.

10. Hulle het ook hard geskree sodat almal kon hoor: “Wil jy weet wie jou uit jou sonde kan red? Dit is ons God wat oor alles heers en die Lam wat dit kan doen!”

11. Al die engele het in ’n sirkel rondom die troon en die 24 leiers van die kerk en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het op hulle knieë voor God neergeval

12. en Hom aanbid:“Niemand hoef hieraan te twyfel nie! Al die lof behoort aan God. Hy is die belangrikste van almal. Hy weet alles. Vir Hom moet ons vir alles dankie sê. Wat ons sê of wat ons doen, moet wees om Hom groot te maak. Hy het al die krag. Niemand is so sterk soos Hy nie. Ja, ons praat van ons God. Dit was van altyd af waar en sal vir altyd van Hom waar bly. Daaraan hoef niemand te twyfel nie!”

13. Een van die leiers van die kerk vra my toe: “Wie is al hierdie mense met die deftige wit klere aan? Waar kom hulle vandaan?”

14. Ek sê toe: “Hoe sal ek nou weet, Meneer. U is mos die een wat sulke dinge weet.”Toe sê hy vir my: “Hierdie mense het baie swaargekry en is vreeslik vervolg. Maar hulle klere is nou weer mooi skoon gewas. Daar is nie ’n merkie of ’n vlekkie op nie, want hulle het dit in die bloed van die Lam gewas.

15. Dit is waarom hulle nou hier voor God staan. “Sonder ophou, dagin en daguit, dien hulle God in sy blyplek. Net so sal God, die Heerser, self by hulle bly en na hulle kyk.

16. Hulle sal nooit weer honger of dors word nie en die hitte en koue sal nie vir hulle ondraaglik word nie. Daarvoor sal God sorg.

17. Ja, die Lam, wat oor almal heers, sal persoonlik vir hulle sorg. Hy sal vir hulle alles gee wat nodig is om vir ewig te leef. En God sal sorg dat hulle nie meer hartseer sal wees of pyn sal ken nie.”