hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 13 Die Boodskap (DB)

Die dier wat Jesus wil na-aap

1. Ek sien toe ’n dier uit die see opkom. Hy het so gelyk: hy het tien horings en sewe koppe gehad, wat gewys het hoe ’n sterk regeerder hy was. Sy tien krone het gewys dat hy soos ’n koning regeer het. Op die koppe was die verskriklikste naam geskryf. Dit was ’n absolute belediging vir God!

2. Hy kon nie sy sluheid wegsteek nie, want hy het die lyf van ’n luiperd gehad en sy pote het soos ’n beer s’n gelyk. Daarmee het hy vasgestaan.Sy bek was soos ’n leeu s’n, wreed en vreesaanjaend.Die duiwel het aan hierdie dier sy krag gegee. Hy kon met net soveel gesag as die duiwel regeer.

3. Een van die koppe van die dier het ’n wond gehad waarvan hy sekerlik moes doodgaan. Met so ’n wond kon hy nie bly leef nie. Tog het die wond gesond geword.

4. Die hele wêreld was verwonderd, stom van verbasing. Hulle het agter die dier aangestroom en die duiwel soos God aanbid, want hy het mos al daardie mag aan die dier gegee. “Wie is so wonderlik soos die dier?” het hulle gevra. “Wie sal ooit teen hom ’n oorlog kan wen?” So het hulle die dier aanbid.

5. God het die dier toegelaat om so ’n grootmond te wees en Hom te beledig. God het hierdie kragtoertjies van die duiwel vir ’n rukkie geduld; dit was darem nie te lank nie.

6. Die dier het vreeslik te kere gegaan. Hy het God op alle moontlike maniere beledig en sy karakter geskend. Selfs die wesens wat in die hemel saam met God bly, moes onder sy tong deurloop.

7. God het die dier ook nie gekeer om teen God se mense oorlog te maak en hulle selfs te wen nie. God het hom ook toegelaat om die septer te swaai oor die hele wêreld, maak nie saak waar nie.

8. Al die mense wêreldwyd en van oraloor het die dier aanbid asof hy God of Christus self is. As ek hier sê “al die mense”, is dit natuurlik almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Dit is Christus, die Lam met die slagmerk aan sy keel, se boek. Die name staan al in daardie boek vandat die wêreld gemaak is.

9. As iemand twee ore het, moet hy hierna luister:

10. “As dit op iemand se pad lê om in die tronk te beland, sal hy in die tronk beland. Iemand wat iemand anders doodmaak, sal self doodgemaak word.”Ja-nee, die mense wat aan God behoort, moenie moed opgee nie. Hulle moet gelowig op God bly vertrou.

Die dier wat die werk

11. Ek het toe nog ’n dier gesien. Hy het uit die aarde opgekom.Hierdie dier het nie gevaarlik gelyk nie, net soos ’n lammetjie met twee horinkies. Toe die dier egter sy mond oopmaak om te praat, was dit die ene duiwel, van voor tot agter.

12. Hierdie dier kon alles doen wat die eerste dier gedoen het. Hulle het saamgewerk. Die tweede dier het net een doel gehad: hy wou sorg dat al die mense op die aarde die eerste dier - dit is nou die een met die dodelike wond wat gesond geword het - soos ’n god aanbid.

13. Hy het die wonderlikste dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hy het selfs vuurvlamme uit die hemel op die aarde laat reën. Hy het natuurlik gesorg dat almal dit sien.

14. Onnodig om te sê, maar hy het die mense met al hierdie wonderlike dinge die regte pad heeltemal byster laat raak. Hy het hulle selfs oortuig om vir die eerste dier (wat met die swaard gewond is, maar nog springlewendig is) ’n standbeeld te bou om hom só as ’n groot heerser te eer.

15. God het selfs toegelaat dat die beeld begin asemhaal en praat, soos die tweede dier wou. Die ergste is dat hierdie standbeeld enigiemand wat nie voor hom neerval en hom soos ’n god aanbid nie, daar en dan doodgemaak het. Hy het ook almal forseer om ’n merk op hulle regterhand en voor op hulle kop te dra. Aan die merk sou almal kon sien dat hulle aan die dier behoort.

16. Niemand het dit vrygespring nie; of jy nou belangrik was of nie, ryk of arm; ja, letterlik niemand nie, nie eens die eenvoudigste werker of die belangrikste baas nie. Almal moes daardie merk dra.

17. Niemand kon enigiets koop of selfs iets verkoop as hy nie die merk gehad het nie; dit wil sê, die naam van die dier of die kodenommer van sy naam.

18. Hier is ’n raaisel vir die slimmes. Laat iemand wat slim genoeg is, uitwerk wat hierdie kodenommer van die dier wil sê. Dit is die kodenommer van ’n mens, naamlik 666.