hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 20 Die Boodskap (DB)

Duisend jaar lank vrede, want God regeer

1. Ek sien toe ’n engel wat uit die rigting van die hemel afkom. In sy hand het hy die sleutel van die bodemlose onderaardse diepte asook ’n ketting gehad.

2. Hy gryp toe die draak - dit is die slang wat ons van die ou tyd af ken, die duiwel en Satan - en maak hom met die ketting vas.

3. Toe boender die engel hom in die onderaardse diepte in en maak die ingang deeglik toe sodat niemand dit oop of toe kan maak nie. So sal dit 1 000 jaar lank bly. Die volle 1 000 jaar sal die draak nie meer die mense op die verkeerde pad kan lei nie. As die 1 000 jaar verby is, moet die draak ’n klein rukkie weer losgelaat word.

4. Toe ek kyk, sien ek ’n klomp trone. Op die trone was mense vir wie God gesê het dat hulle maar namens Hom oor sondaars kan oordeel. Ek het ook die siele gesien van elke mens wie se kop afgekap is omdat hy met oortuiging oor Jesus en die boodskap van God gepraat het. Hulle het geweier om die dier of sy beeld soos God te aanbid. Hulle het ook nie die dier se teken op hulle voorkoppe of hande laat maak nie. Hulle almal het lewendig geword. Die volle 1 000 jaar het hulle saam met Jesus geheers.

5. Dit is die eerste opstanding. Die res van die mense wat dood is, het eers na die 1 000 jaar lewendig geword.

6. Hierdie mense wat so opstaan, is baie gelukkig. Hulle is God s’n. Die tweede dood sal hulle nie kan beetkry nie. Hulle sal vir ewig leef en God en Christus dien met alles wat hulle het. Saam met Jesus sal hulle 1 000 jaar lank oor alles heers.

7. Wanneer die 1 000 jaar verby is, sal God Satan uit sy tronk laat kom.

8. Satan sal skaars uit die tronk wees of hy sal al die mense, oor die hele wêreld, begin mislei. Hy sal hulle - dit is die Gog en die Magog - ompraat om saam te kom vir oorlog.

9. Daar sal miljoene van hulle wees, so baie soos die sand van die see. Hulle sal oor ’n wye gebied optrek en die woonplek van God se mense, asook die stad wat God liefhet, omsingel. Maar daar sal vuur uit die hemel op hulle neerbrand en hulle verbrand.

10. Die duiwel wat hulle so mislei het, sal in die see van vlamme en swael gegooi word. Dit is waar die dier en die vals profeet ook is. Dié drie sal daar dag en nag, sonder ophou, van die pyn krul.

God oordeel finaal

11. Voor my oë het ek ’n groot, wit troon sien staan. Ek het Iemand op die troon sien sit. Die hemel en die aarde het voor Hom probeer wegkom, maar daar was nie ’n plek waar hulle kon wegkruip nie. Toe sien ek iets anders.

12. Mense wat reeds dood en begrawe was - klein en groot - het voor die troon gestaan. Boeke is toe oopgeslaan. ’n Boek is oopgemaak waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig sal lewe. Daarin is boekgehou van wat die mense alles gedoen het. God het besluit wat met elkeen gaan gebeur op grond van wat in die boek staan.

13. Die mense wat in die see verdrink het, het lewendig geword. Al die mense, hoe hulle ook al dood is, het lewendig geword en voor die troon verskyn. Elkeen moes God se oordeel aanhoor, volgens hoe hy geleef het. Daarna het God die moontlikheid van die dood ook vernietig.

14. Die dood en die doderyk self is in die see van vuurvlamme gegooi. Dit is die tweede dood: om in hierdie see van vlamme verskroei te word.

15. Nou wie presies beland in hierdie vlamme? As jou naam nie in die boek staan waarin die name staan van die mense wat vir ewig sal leef nie, is die vlamme jou voorland!