Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:12-23 Die Boodskap (DB)

12. “Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.”

13. Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword.

14. Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê.

15. Jesus stap toe nader en vat haar hand. Dadelik het haar koors gebreek en sy het beter begin voel. Om die waarheid te sê, sy het soveel beter gevoel dat sy dadelik opgestaan en vir Jesus kos gemaak het.

16. Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak.

17. Terwyl hulle Jesus so dophou, het hulle begin verstaan wat die groot profeet Jesaja bedoel het:“Waar ons so swak was dat ons nie verder kon nie, het Hy ons weer sterk gemaak. Toe ons platgeslaan was deur siektes, het Hy ons gesond gemaak.”

18. Jesus het gesien dat Petrus se huis nou te klein word vir al die mense. Dit het Hom laat besluit om van daar af na ’n plekkie aan die oorkant van die meer te gaan.

19. Toe hulle begin regmaak om te gaan staan ’n geleerde Israeliet nader, ’n kenner van die Joodse Bybel. Hy sê vir Jesus: “Ek sien U is ’n geleerde man. Mag ek asseblief saam met U gaan? Ek wil so graag meer van U leer. Dit maak nie saak waarheen U gaan nie, ek sal daar wees!”

20. “Wel,” sê Jesus, “jy moet goed nadink. Soos jy weet, moet selfs diere ’n blyplek hê. Kyk, voëls bly in neste en jakkalse in gate. Maar dit moet jy besef: daar gaan tye kom dat dit so swaar met My sal gaan dat Ek nie eens ’n plek sal hê om te slaap nie. Sê My, sal jy dan nog by My wil wees?”

21. Een van Jesus se getroue volgelinge sê toe: “Here, verskoon my ’n rukkie, asseblief. Ek moet eers gou teruggaan huis toe om te gaan help met die reëlings vir my pa se begrafnis. U kan maar solank vooruitgaan. Ek kom later.”

22. Jesus het nie doekies omgedraai nie: “Jou pad na die ware lewe toe loop agter My aan. Loop daardie pad voluit! Moenie allerhande afdraaipaadjies soek nie. Daar is genoeg ander mense wat nie hierdie pad wil loop nie. Laat hulle hulle ophou met dinge soos begrafnisse.”

23. Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8