Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:51-62 Die Boodskap (DB)

51. Jesus se taak om God se nuwe wêreld bekend te maak het nou stadig maar seker einde se kant toe begin staan. Hy moes binnekort na sy hemelse woonplek toe terugkeer. Maar eers moes Hy na Jerusalem toe gaan.

52. Jesus het toe ’n paar van sy volgelinge vooruitgestuur om te sorg dat Hy oral langs die pad ’n plek het om oor te bly. Jesus se volgelinge het in ’n dorp in die gebied van die Samaritane aangekom om vir Jesus kos en slaapplek te reël.

53. Maar toe die inwoners hoor dat Hy op pad was Jerusalem toe, wou hulle niks met Hom te doen hê nie. Die Samaritane en die Israeliete het immers glad nie met mekaar oor die weg gekom nie.

54. Toe Jesus in dié Samaritaanse dorp aankom, het sy volgelinge vir Hom kom sê dat Hy nie daar welkom was nie. Jakobus en Johannes was op die plek woedend. “Here, sê net die woord, dan vra ons vir God om vuur uit die hemel te stuur om al hierdie mense te verbrand.”

55-56. “Wat? Hoekom wil julle so iets verskrikliks doen?” het Jesus vir hulle gesê. “Kom ons gee liewer pad. In ’n ander dorp sal ons wel ’n plek kry.”

57. Langs die pad het iemand vir Jesus gesê: “Here, ek is bereid om u volgeling te wees. Maak nie saak waar U gaan nie, ek sal by U bly.”

58. Toe sê Jesus vir hom: “Jy moet baie mooi dink wat jy sê, want Ek wat die Seun van die mens is, kan nie eens vanaand vir jou ’n ordentlike slaapplek aanbied nie. Selfs die voëls en die jakkalse in die veld is beter daaraan toe as Ek. Hulle het ten minste ’n blyplek van hulle eie.”

59. Jesus draai toe na een van die ander mense wat ook saam met Hom gestap het en sê vir hom: “Volg My!”Die man antwoord vinnig: “Ek doen dit graag, maar ek moet net eers gou my pa gaan begrawe.”

60. Maar Jesus was nie tevrede nie. “Los die dooies uit. Hulle het hulle kans gehad. Daar is in elk geval genoeg ander mense wat vinnig op pad is na die doderyk toe wat sal sorg dat jou pa begrawe word. Ek stuur jou nou na mense toe wat nog lewe. Gaan sê vir hulle God se nuwe wêreld is hier.”

61. Iemand anders wat gehoor het wat Jesus alles sê, sê toe vir Hom: “Here, U hoef my nie te vra om U te volg nie. Ek bied sommer self aan om u volgeling te word. Ek wil net gou my familie gaan groet en hulle in kennis stel van my besluit.”

62. Toe sê Jesus vir hom: “Daar’s nie nog tyd oor om jou familie te gaan groet nie. Los dit. Nou moet jy saam met My stap. As jy een van my volgelinge wil wees, moet jy al die ander dinge in jou lewe tweede stel, ook jou familie en vriende. Anders is daar nie vir jou plek in God se nuwe wêreld nie.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9