hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7 Die Boodskap (DB)

Melgisedek is die groot priester

1. Jesus is ’n priester soos Melgisedek. Wat beteken dit? Melgisedek was sowel die koning van Salem (wat later Jerusalem geword het) as ’n priester van die allergrootste God. Abraham was op ’n keer op pad terug van ’n oorlog af; dit was toe hy die klomp konings verslaan het. Op pad loop hy toe vir Melgisedek raak.

2. Melgisedek seën toe vir Abraham en in ruil gee Abraham vir hom ’n tiende van die goed wat hy in die oorlog afgevat het. Om mee te begin: die naam Melgisedek beteken “koning wat doen wat reg is”. Verder beteken “koning van Salem” eintlik “koning wat vrede maak”.

3. Waar hy vandaan gekom en wie sy pa en ma was, is ’n geheim. Niemand weet wanneer hy gebore is of wanneer hy dood is nie. Hy is net soos die Seun van God. Hy is ook ’n priester vir altyd.

4. Kyk net hoe belangrik was Melgisedek regtig: Abraham, die groot voorvader van God se volk, het aan hom ’n tiende gegee van wat hy in die oorlog gewen het.

5. Dit is wel so dat die wet sê dat net nakomelinge van Levi priesters mag word. Die volk moes aan hulle ’n tiende gee van wat hulle gehad het, al was die Leviete ook maar net deel van dieselfde volk as hulle.

6. Maar Melgisedek was glad nie deel van die Leviete nie. Juis vir hom het Abraham ’n tiende gegee en hy het Abraham geseën, en onthou, God het Abraham alles beloof.

7. Een ding is seker: die belangriker persoon seën die onbelangriker persoon.

8. Boonop is die Leviete sterflik en kan hulle net die tiendes insamel tot hulle doodgaan, maar van Melgisedek word gesê dat hy nie dood is nie, maar leef.

9. Ons kan dit ook so stel: Levi, wat van God se volk die tiendes insamel, moes self deur sy vader Abraham aan Melgisedek sy tiende betaal.

10. Immers, toe Abraham vir Melgisedek ’n tiende gegee het, was Levi eintlik nog in die liggaam van Abraham, sy voorvader. Daarom kan ons sê dat hy dit eintlik self gedoen het.

Jesus is baie spesiaal

11. Daar is nog ’n ander vraag: Waarom moes daar nog ’n ander soort priester kom? Aäron, as Leviet, en sy nakomelinge was mos daar: Waarom is priesters soos Melgisedek ook nog nodig? Immers, die wet en alles is gegee met die Leviete wat dit organiseer. Wel, die Levitiese priesters met die wet en al kon nie doen wat hulle moes doen nie. Daarom was ’n priester wat soos Melgisedek is, ook nodig.

12. As daar dan ’n ander soort priester kom, is dit nodig dat die wette ook verander.

13-14. Immers, Jesus kom uit die stam van Juda. Die ou wet (van Moses) sê mos dat iemand uit daardie stam nie ’n priester mag word of daardie soort werk mag doen nie.

15. Hoe dinge verander het, word nog duideliker as ons besef dat Jesus ’n priester is op dieselfde manier as wat Melgisedek dit was.

16. Wat beteken dit? Dit beteken dat as jy vra hoekom Jesus ’n priester is, jy nie vra uit watter mense Hy afstam en volgens watter reëls dit bepaal word nie. Jesus leef immers van altyd af en sal vir altyd leef. Wie Hy is en wat Hy mag wees, word nie afgelei uit wie sy menslike pa of ma is nie.

17. Want die Skrif sê self:“U sal vir altyd ’n priester wees net soos Melgisedek een was.”

Jesus kan vir ons doen wat gedoen moet word

18. Die ou reëls van Aäron-hulle werk nie meer nie, omdat dit nie regtig mense kon help soos dit moes nie.

19. Deur daardie wet kon die mense se saak by God nie regtig reggemaak word nie. Maar nou is daar ’n ander manier: Jesus! En dit werk, want so kom ons baie naby aan God.

20. En nog ’n ander ding: God het Jesus met ’n eed priester gemaak. Nie een van die ander priesters kan dit sê nie.

21. Toe God Jesus as priester aangestel het, het Hy gesê: “Met ’n eed het die Here sy woord gegee en sal dit nooit terugtrek of breek nie: ‘Jy is die priester vir ewig en altyd.’”

22. Daarom kan Jesus ons waarborg dat daar nou ’n baie beter ooreenkoms tussen ons en God is.

23. In die verlede was daar rye priesters, want soos hulle dood is, moes daar nuwe priesters aangestel word.

24. Met Jesus is dit glad nie so nie. Hy leef vir ewig en daarom sal Hy vir altyd priester bly. Ons hoef dus nie ’n ander priester te soek nie.

25. Juis daarom kan Hy ons saak by God regmaak wanneer ons deur Hom na God toe gaan. Hy sal altyd daar wees om ons saak by God te stel, want Hy leef vir altyd.

Jesus is so anders as sondaars wat foute maak

26. Ons het nou ’n Hoëpriester wat alles vir ons doen wat ons nodig het. God is opgewonde oor Hom. Hy het nie foute gemaak nie en kan nie van een verkeerde ding beskuldig word nie. Hy is anders as sondaars wat heeltyd foute maak. Hy is nou by God self in die hemel, so belangrik is Hy regtig. Die ander priesters moes mos dagin en daguit eers offers bring om vir God om verskoning te vra vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Dan eers kon hulle offers bring vir die sonde van die ander mense.

27. Maar dit is nie vir Jesus nodig nie. Hy het een offer gebring en toe het God gesê dit is genoeg. Daar is nie meer offers nodig nie. En daardie offer was toe Hy Homself geoffer het.

28. Laat ek dit ’n bietjie saamvat: die hoëpriesters van ouds was maar swak mense. Nou, na die wet, het God met ’n eed sy Seun Hoëpriester gemaak. Hy is volmaak en sal sorg dat alles gedoen word wat nodig is. Dit sal vir altyd so wees.