hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 2 Die Boodskap (DB)

Die boodskap oor Jesus is waar, sowaar!

1. Ons moet wat ons gehoor het nie so ligtelik opneem nie. Ons moet ernstig daaroor wees sodat ons nie dalk op die verkeerde pad beland nie.

2. Die boodskap wat voorheen deur hemelse wesens aan die mense verkondig is, was natuurlik nie sommer stories nie. Mense het daarna geluister en wie hulle nie daaraan gesteur het nie, is gestraf soos dit hoort.

3. As dit so was, watter kans het ons dan om los te kom as ons die wonderlike verlossing ignoreer wat Jesus bring? Die Here het self begin om mense te vertel hoe hulle weer by God kan uitkom. Mense wat Hom hierdie dinge hoor sê het, het dit weer vir ons kom vertel. Daarom weet ons dit is waar.

4. God self het ook beklemtoon dat dit waar is deur wonderlike dinge en allerhande tekens daarmee saam te laat gebeur. Hy het ook deur die Heilige Gees aan die gelowiges baie spesiale geestelike geskenke gegee soos Hy gevoel het Hy wil doen.

Jesus verstaan jou, want

5. Jesus wat ons red, gee vir ons ’n nuwe bestaan in ’n nuwe wêreld. Dit is waaroor ons praat. God het egter nie die hemelse wesens baas oor die nuwe wêreld gemaak nie.

6. Iewers in die Skrif vra iemand vir God:“Wat is daar in ’n mens dat U hoegenaamd nog aandag gee aan hom? Is ’n mens die moeite werd dat U so vir hom sorg?

7. En tog, U het die mens vir ’n rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gegee. U het egter vir die mens die eer gegee wat net konings het.

8. U het alles vir hom gegee om oor te regeer.”As die Skrif sê dat God alles aan die mens gegee het om oor te regeer, beteken dit álles, sonder enige uitsondering. Soos dit op die oomblik lyk, regeer die mens nog nie oor alles nie.

9. Daar is egter een uitsondering en dit is Jesus. Ons sien dat Hy vir ’n kort rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gehad het. Hy het selfs gely en is doodgemaak.

10. Maar nou is dit anders. Juis omdat Hy so gely het, het God Hom ’n belangriker posisie as die hemelwesens gegee. In die oë van almal is Hy nou so belangrik soos ’n koning vir sy onderdane is. Dit was egter goed dat God Jesus vir ’n kort rukkie minder belangrik as die hemelse wesens gemaak het. So kon Hy as mens sy lewe in ons plek gee. God het alles gemaak en alles wat bestaan, bestaan net vir Hom. Hy wil ook hê dat baie mense hemel toe moet gaan. Daarom is daar niks mee verkeerd dat Hy Jesus laat ly het sodat daar geen twyfel kan bestaan dat Jesus absoluut volmaak is nie. Jesus is immers die Een wat mense moet red.

Jesus het gesorg dat jy God se vriend mag wees

11. Dit is Jesus wat sorg dat mense na God toe mag gaan, en die mense wat deur Jesus vir God aanvaarbaar gemaak word, behoort aan dieselfde gesin. Daarom is Jesus nie skaam om hulle sy broers en susters te noem en hulle so te behandel nie.

12. Hy sê: “Ek sal my broers en susters alles vertel wat Ek van U weet. Waar almal saam is, sal Ek liedere sing wat vertel hoe groot en belangrik U werklik is.”

13. Dit het Hy ook nog oor die familie gesê: “Ook Ek vertrou God altyd,” en: “Kyk, hier is Ek en al die kinders wat God My gegee het.”

Jesus het die duiwel op sy plek gesit

14. Hierdie kinders in die familie van God is almal mense en daarom is dit logies dat Jesus ook mens geword het. Op dié manier kon Hy ook doodgaan om so die duiwel op sy plek te sit. Dit is mos juis die duiwel wat mense doodmaak.

15. So het Jesus die mense vrygemaak van die vrees wat hulle altyd nog vir die dood gehad het.

16. Ons weet goed dat Hy nie al die moeite gedoen het om die hemelse wesens te kom help nie. Hy het dit gedoen om mense te kom help.

17. Daarom was dit nodig dat Jesus in elke opsig ’n mens moes word, net soos ons, sy broers en susters. So kan Hy regtig namens mense die diens aan God bewys wat God verwag. Hy kan die hoëpriester wees wat simpatie met mense het en wat mense se belange op sy hart dra. So kan Hy daarvoor sorg dat mense se sondes vergewe word en nie teen hulle gehou sal word nie.

18. Juis omdat Hy self ervaar het hoe dit voel om swaar te kry en nee te moet sê vir versoekings, kan Hy mense wat ook in sulke situasies beland baie goed help.