Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:1-13 Die Boodskap (DB)

1. In daardie tyd het ’n groepie Jode uit Judea in Antiogië aangekom. Hulle het vir die Christene gesê: “Julle moet julle laat besny. So nie, sal God julle nooit red nie.”

2. Paulus en Barnabas was baie omgekrap daaroor. Hulle het met dié mense begin stry oor hulle skewe sienings. Later het die gemeente besluit om vir Paulus en Barnabas en ’n paar ander mense na Jerusalem te stuur om te hoor wat die apostels en ander kerkleiers daar oor die besnydenis te sê gehad het.

3. Op pad Jerusalem toe het die groep by die gemeentes in Fenisië en Samaria oorgebly. Hulle het vir die gelowiges vertel hoe God ook gewerk het onder mense uit ander volke op wie die Jode neersien. Toe die gelowiges hoor dat daardie mense tot geloof gekom het, was hulle baie bly.

4. Met hulle aankoms in Jerusalem is Paulus-hulle vriendelik deur die gemeentelede ontvang. Die apostels en die ouderlinge was ook daar om hulle te verwelkom. Hulle het toe aan die kerk in Jerusalem verslag gedoen van al die groot dinge wat God deur hulle laat gebeur het.

5. ’n Klompie Fariseërs wat intussen ook tot bekering gekom het, was geskok toe hulle hoor hoe Paulus en Barnabas onder nie-Jode gewerk het. “Julle moet daardie mense dadelik laat besny. Julle moet ook sorg dat hulle die wet van Moses streng onderhou,” het hulle gesê.

6. Die apostels het saam met die ouderlinge ’n vergadering belê om dit behoorlik te bespreek.

7. By dié vergadering het die een persoon na die ander gesê hoe hy oor die besnydenis dink. Uiteindelik, na lang debatte, het Petrus opgestaan en gesê: “Broers, julle weet mos hoe God my ’n ruk gelede na mense toe gestuur het wat nie Jode is nie. Ek moes die goeie nuus oor Jesus aan hulle gaan vertel sodat hulle ook tot bekering kon kom.

8. God, wat tot in ons binneste kan kyk, het gesien dat hulle regtig tot geloof gekom het. Daarom het Hy die Heilige Gees na hulle toe gestuur, net soos Hy vroeër met ons gedoen het.

9. “God maak nie onderskeid tussen mense van verskillende volke nie. Hy trek niemand voor nie. Daarom het Hy ook daardie mense wat nie Jode is nie, nuut gemaak omdat hulle in Jesus glo.

10. “Vir wat wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur ’n swaar gewig op gelowiges se nekke te plaas wat ons en ons voorouers nie eens kon optel nie? Hoekom verwag julle van mense wat nie Jode is nie om al ons Joodse gebruike na te kom?

11. Begryp julle dan nou nog nie dat ons uit genade deur ons Here Jesus gered word nie? Ons verdien dit nie. Hy red ander mense op presies dieselfde manier as vir ons.”

12. Almal was doodstil na Petrus se toespraak. Toe staan Barnabas en Paulus op en vertel vir die vergadering van al die groot wonders wat God deur hulle onder mense van ander volke gedoen het. Niemand het dit nou nog gewaag om iets te sê nie, behalwe Jakobus.

13. Hy het opgestaan en gesê: “Broers, luister asseblief na my.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15