hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 3 Die Boodskap (DB)

God se Gees verander ons harte

1. Liewe broers en susters, voor ek klaar is, is daar nog iets belangriks wat ek vir julle wil sê: moenie dat enigiets julle onderkry nie. Wees altyd oortuigend en opgeruimd. Julle is mos Christene wat die Here ken.Dit pla my nie om dieselfde dinge weer ’n keer aan julle te skryf nie. Dit kan mos nie kwaad doen nie, maar so sal julle net sekerder van julle saak word.

2. Wees baie versigtig vir daardie skelms wat maak asof hulle vir Jesus werk, maar eintlik net die teenoorgestelde doen. Kyk hoe sleg tree hulle op. Dit wys mos vir julle wat hulle ware gedaante is. Oppas, al waarin daardie mense belangstel, is om julle te dwing om Joodse gebruike na te kom, soos om julle te laat besny. Moenie julle daaraan steur nie.

3. Ons, die Christene, weet mos wat regtig saak maak. Dit hang nie af van wat mense aan jou doen nie, maar wat God aan jou doen. God self (en nie mense nie) het sy hand op ons gelê. Dit is nie sommer net iets fisieks wat met ons gebeur (soos met die Joodse gebruike) nie, maar God se Gees verander ons hart. Wanneer ons met God praat en Hom dien, weet ons dat dit sy Gees is wat ons help. Moenie my misverstaan nie. Ek sê nie dit is ons wat so goed is nie. Nee, ek sê dit omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het.As dit wat God aan jou doen iets is wat regtig saak maak, staan ek nie ’n duim vir die ander terug nie.

Ek was eintlik ’n goeie Jood, sê Paulus

4. Op menslike vlak kan ek ’n lang lys dinge opstel wat julle baie sal beïndruk. Luister net. Ek is deur en deur ’n Israeliet. Soos van elke goeie, gelowige Israeliet verwag word,

5. is ek op die agtste dag besny. Dan is ek ook nog deel van die room van die Israeliete: ek is ’n Benjaminiet. Ek is vlot in die Hebreeus wat in die godsdienstige byeenkomste van die Jode gebruik word, en nie elkeen kan dit sê nie. Ek was ook ’n lid van die party van die Fariseërs, ’n groep wat die Joodse wet stiptelik nakom.

6. In daardie tyd was ek so ernstig oor my Joodse godsdiens dat ek al wat Christen was, ywerig vervolg het. Ja-nee, volgens die Joodse wet het ek nie ’n voet verkeerd gesit nie.

Christus is vir my die

7. Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het.

8. Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame. Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie,

9. maar omdat ek Jesus vertrou. Vrede en goeie verhoudings tussen God en mens word ervaar deur almal wat in Jesus glo. God sorg daarvoor.

10. Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf.

11. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap.

Jesus gryp jou vas

12. Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het.

13. Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Allesbehalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie.

14. Soos ’n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort.

15. So behoort volwasse Christene oor dinge te dink. As party van julle op sekere punte van my verskil, laat God vir julle wys wat julle regtig moet dink.

16. Hoe ook al, laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly.

Wat God wil, kan Hy doen

17. My broers en susters, doen wat ek gedoen het. Wees my navolgers. Terwyl ek nie daar is nie, moet julle die mense se voorbeeld volg wat die wedloop net soos ek hardloop. Dit is belangrik dat julle die regte mense volg.

18. Ek het dit al baie vir julle gesê en dit maak my eintlik seer om dit weer te moet sê: daar is baie mense wat niks van Jesus hou en van wat Hy alles vir ons gedoen het nie.

19. Mense wat agter daardie klomp aanloop, gaan saam met hulle die afgrond afstort waar hulle vir ewig van God af weg sal wees. Hulle stel mos meer belang daarin om hulleself en hulle eie begeertes te dien as vir God. Hulle spog oor dinge waaroor ’n mens jou eintlik bloedrooi behoort te skaam. Aan God dink hulle nie eens nie, want al wat vir hulle waarde het, is aardse dinge.

20. Hoe anders is ons nie! Wat vir ons saak maak, is die hemelse dinge. Daar lê ons ware vaderland. Uit daardie vaderland sal ons Redder kom. Uit die hemel verwag ons ons Here, Jesus Christus. Hy gaan ons swak menslike liggaam verander.

21. Hy gaan ons liggaam nuut maak soos sy liggaam is na sy opstanding, verhewe en heerlik. Hy sal dit doen omdat Hy baie sterk is, want sy krag oortref alle ander krag. Wat Hy wil, dit kan Hy doen.