Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1:7-24 Die Boodskap (DB)

7. Ek weet dat julle dieselfde lyding as ek ervaar. Maar ek weet ook dat julle dieselfde troos as ek van God ontvang.

8. Weet julle, ek het onlangs in Asië baie gely ter wille van my geloof. Dit was verskriklik. Ek is so erg mishandel dat ek dit later nie meer kon uithou nie.

9. Dit het gevoel of ’n doodsvonnis oor my uitgespreek is. Maar ek het toe ’n baie belangrike les geleer. Ek het geleer om te bly vashou aan God wat selfs die dooies lewendig kan maak.

10. Uiteindelik het Hy my uit daardie lewensgevaarlike situasie gered. Daarom weet ek met alles in my dat God my vorentoe weer sal red wanneer ek in gevaar verkeer. Hy sal my elke keer help wanneer ek in die nood is.

11. Bid asseblief vir ons. Daarsonder kan ons glad nie ons werk vir die Here doen nie. Julle gebede maak dat baie ander mense ook begin bid. Hulle sal vir God dankie sê omdat Hy ons met sy hemelse gawes toegerus het sodat ons die goeie nuus aan hulle kan bekendmaak. Op hierdie manier werk al julle gebede mee aan die uitdra van die evangelie.

12. Ek is trots daarop dat ek opreg optree teenoor almal, ook teenoor julle. God self stel my in staat om sonder vals motiewe op te tree. Hiervan is ek absoluut oortuig. Ek hou my nie met allerhande slimpraatjies besig nie. Nee, ek is heeltemal afhanklik van God se goedheid.

13. In my briewe skryf ek oor sake wat julle maklik kan verstaan. Daarom glo ek julle sal verstaan dat julle baie trots op my kan wees wanneer ons almal saam op die laaste dag voor die Here Jesus staan. Natuurlik sal ek op daardie dag ook baie trots op julle wees.

14. Gelukkig verstaan julle darem nou al so ’n ietsie van hierdie goeie nuus.

15. Omdat ek so trots op julle is, het ek vroeër besluit om eerste na julle toe te kom voordat ek Masedonië toe gaan.

16. Later op pad terug van daar af sou ek dan ’n tweede maal by julle kom oorbly het. So sou julle sommer twee keer deel kon hê in al die wonderlike hemelse geskenke wat God vir my gegee het. Boonop sou julle my tydens my tweede besoek kon help met al my voorbereidings vir my reis na Judea. Ongelukkig het hierdie planne toe nie so uitgewerk nie.

17. Miskien dink julle by julleself: “Daardie Paulus sê een ding, maar doen iets anders. Hy belowe hy kom ons besoek, maar dan daag hy nie op nie.” Het ek sommer uit my eie hierdie besluite geneem, sonder om eers te vra wat God se wil is?

18. Is ek ’n regte jabroer wat die een ding sê en ’n ander ding doen? Nee, glad nie. God weet ek praat die waarheid met julle.

19. Julle weet ook dat ek julle nie bedrieg het toe ek en Silvanus en Timoteus vroeër daar by julle gewerk het nie. Ons het mos nie die een dag een ding gesê en die volgende dag iets anders kwytgeraak nie. Ons het net met julle oor Jesus Christus, die Seun van God, gepraat.

20. Hy is die bewys dat God getrou is. Christus sê nooit een ding en doen dan iets anders nie. Hy maak al God se beloftes in die Bybel waar. Hierop kan ons almal net “ja en amen” sê, of hoe? En wanneer ons dit doen, word God se Naam grootgemaak.

21. God het ons almal saam stewig in Christus geanker. Hy is die fondament op wie ons lewe gebou is. God het ons ook met sy groot krag toegerus en ons eenkant gesit sodat ons Hom voltyds kan dien. Hy het boonop sy amptelike stempel op ons lewe geplaas as die bewys dat ons aan Hom behoort. Dit is die Heilige Gees.

22. God het die Heilige Gees aan ons almal gegee as die deposito, die eerste betaling van sy kant af om ons te verseker dat sy nuwe wêreld op ons wag.

23. Kom ek sê reguit vir julle hoekom ek besluit het om nie Korinte toe te kom nie. Weet julle, ek wou julle ’n groot stuk hartseer spaar. Regtig! God weet dit. Julle geloof is in elk geval mos nie van my besoek afhanklik nie.

24. Dit is regtig nie my werk om oor julle baas te speel deur vir julle voor te skryf presies hoe julle moet glo nie. Al wat ek wil doen, is om te help dat julle geloof ’n nog groter vreugde word.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 1