Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7:26-40 Die Boodskap (DB)

26. Omdat dit vandag nie so maklik is om ’n Christen te wees nie, is dit beter om nie aan jou situasie te verander nie. Hou dit soos dit is.

27. As jy getroud is, moet jy nie nou skielik wil skei nie.

28. Net so moet jy, as jy ongetroud is, nie nou naarstig na ’n huweliksmaat begin soek nie. Dit beteken natuurlik nie dat as jy wel trou, jy nou ’n groot sonde doen nie. Maar een ding moet jy weet: as jy trou, sal dit net soveel swaarder vir jou wees in hierdie moeilike tye. Ek probeer julle dit maar net spaar.

29. Laat ek dit so stel, my liewe vriende, daar is nie meer baie tyd oor voordat die Here weer kom nie. Die mense wat getroud is, moenie leef asof die huwelik al is wat hulle het om te doen nie, inteendeel.

30. Iemand wat hartseer is, moenie net aan sy hartseer dink nie en wie bly is, moet hom nie daardeur laat voortsleep nie.

31. Dieselfde geld vir jou houding as jy inkopies doen of jou met die alledaagse dinge besig hou. Jy moet nie toelaat dat jou lewe in hierdie soort dinge vasgroei nie. Hierdie wêreld met al die dinge wat ons ken, sal nie vir altyd hou nie. Die einde van die wêreld is naby.

32. Ek wil nie hê dat julle julle onnodig oor allerhande dinge moet sit en kwel nie. As ’n mens byvoorbeeld ongetroud is, het jy baie tyd om aan die Here se dinge af te staan. Jy kan jou aandag daarop toespits om vir die Here te werk.

33. As ’n mens egter ’n gesin het, is dit anders. Dan moet jy tyd afstaan om jou gesin te versorg. Jy moet jou vrou gelukkig hou. Hierdie man moet dan aan baie dinge gelyk dink en

34. dit verdeel sy aandag. ’n Ongetroude vrou kan haar ook lekker toespits op wat vir die Here belangrik is. Haar doel is om met alles wat sy het vir die Here te leef. ’n Getroude vrou kan dit nie doen nie. Sy moet na haar gesin kyk en haar man versorg.

35. Ek wil nie sommer uit snaaksigheid hê dat julle nie moet trou nie, maar wil julle regtig eerder help. Ek wil graag hê dat julle volstoom vir die Here moet leef en doen wat reg is.

36. Sê nou maar iemand is verloof en omdat hy baie tyd aan die Here se werk wil afstaan, kom hy jare lank nie tot trou nie. Dan begin hy die gevoel kry dat hulle maar moet trou omdat die meisie nie meer gelukkig is om vir so ’n lang tyd net verloof te bly nie. Hy moet gerus maar trou. Dit is nie sonde om dit te doen nie.

37. As die persoon egter besluit het om nie met die meisie te trou nie, en dit pla hom nie om sonder ’n vrou te leef nie, doen hy die regte ding as hy nie trou nie.

38. Laat ek dit so stel: as hy met die meisie trou, doen hy goed; as hy nie met die meisie trou nie, doen hy nog beter.

39. ’n Vrou moet by haar man bly solank hy leef. As haar man egter oorlede is, kan sy trou met wie sy wil. Daar is net een voorwaarde: die nuwe man moet ’n kind van die Here wees.

40. Persoonlik dink ek nog dat dit beter vir haar sal wees om nie weer te trou nie. Dit is nie net ’n persoonlike opinie nie, maar die Gees van God wat in my is, ondersteun my.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 7