Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:4-18 Bybel vir Almal (ABA)

4. Daar het toe omtrent 3 000 manne gegaan, maar die manne van Ai het hulle oorwin en hulle het weggevlug van die manne van Ai.

5. Die manne van Ai het omtrent 36 Israeliete doodgemaak. Hulle het die Israeliete gevolg en gejaag van die poort van Ai tot by die klowe in die berge en hulle het die Israeliete doodgemaak toe hulle daar afgaan. Die Israeliete het moedeloos en baie bang geword.

6. Josua het sy klere geskeur en hy het tot die aand voor die kis van die Here gaan lê met sy gesig teen die grond, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi.

7. Josua het gebid en gevra: “Ag, Here, my Here, hoekom het U hierdie volk oor die Jordaan-rivier laat kom? Hoekom het U ons vir die Amoriete gegee sodat hulle ons almal kan doodmaak? Dit sou beter gewees het as ons anderkant die Jordaan-rivier gebly het.

8. Asseblief, Here, wat kan ek nou sê? Die Israeliete het gevlug vir hulle vyande!

9. Die Kanaäniete en die ander mense in die land sal hoor wat gebeur het, en hulle sal ons aanval en vang en ons doodmaak sodat niemand in die land sal onthou dat ons hier was nie. Wat sal U dan doen sodat mense kan aanhou om U te respekteer?”

10. Toe sê die Here vir Josua: “Staan op, hoekom lê jy hier met jou gesig teen die grond?

11. Die Israeliete het sonde gedoen, hulle het ook verkeerd gedoen teen my verbond wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die gewyde goed gevat, hulle het dit gesteel en hulle het dit skelm by hulle eie goed gesit.

12. Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande veg nie, hulle sal weer verloor en vlug vir hulle vyande, want hulle is nou self gewy en hulle sal moet sterf. Julle moet die goed wegvat wat gewy is. As julle dit nie doen nie, dan sal Ek nie meer by julle wees nie.

13. Jy moet opstaan en vir die volk sê: ‘Julle moet julleself wy vir môre, want die Here, die God van Israel, sê: “Julle het goed by julle wat gewy is, en julle sal nie teen julle vyande kan wen nie, julle moet eers die goed wegvat.”

14. Julle moet môre-oggend nader kom, elke stam apart. Die Here sal ’n stam kies, en dan moet elke familie van daardie stam nader kom. Die Here sal ’n familie kies, en dan moet elke huisgesin van daardie familie nader kom. Die Here sal ’n huisgesin kies, en dan moet elke man in daardie huisgesin nader kom.

15. Die Here sal wys wie is die man wat die gewyde goed gevat het, en dan moet julle hom verbrand, hom en al sy mense. Want hierdie man het verkeerd gedoen teen die verbond van die Here, hy het ’n dwase ding gedoen tussen die Israeliete.’ ”

16. Josua het vroeg die oggend opgestaan en hy het die stamme van die Israeliete laat nader kom. Die Here het die Juda-stam gekies.

17. Toe het hy die families van die Juda-stam laat nader kom, en die Here het die Serag-familie gekies. Uit die Serag-familie het die Here die huisgesin van Sabdi gekies.

18. Toe het Josua die huisgesin van Sabdi laat nader kom, en die Here het vir Akan seun van Karmi seun van Sabdi gekies.

Lees volledige hoofstuk Josua 7