Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 7:4-14 Bybel vir Almal (ABA)

4. As ons besluit om in die stad in te gaan, dan sal ons daar sterf, want daar is nie kos nie. En as ons hier bly, dan sal ons hier sterf. Daarom, kom ons loop na die Arameërs toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons, en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.”

5. Toe dit begin donker word, staan die vier melaatse mans op om na die Arameërs se kamp te gaan, maar toe hulle by die kamp kom, was hulle baie verbaas, want daar was niemand nie.

6. Die Here het iets laat gebeur. Die Arameërs het gedink hulle hoor dat daar perde en oorlogkarre en baie manne aankom, en toe sê die Arameërs vir mekaar: “Kan julle dit hoor? Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om te kom oorlog maak teen ons.”

7. Dit het begin donker word, en die Arameërs het gevlug. Hulle het hulle tente en hulle perde en donkies alles daar gelos en hulle het gevlug, hulle wou nie sterf nie.

8. Die vier melaatse mans kom toe by die kamp en hulle gaan in ’n tent in en hulle eet en drink. Hulle vat toe ook goud en silwer en klere en hulle gaan begrawe dit. Daarna het hulle teruggekom en in nog ’n tent ingegaan. Hulle het daar ook goed gevat en gaan begrawe.

9. En toe sê hulle vir mekaar: “Ons doen nou verkeerd. Vandag is ’n dag van goeie nuus, maar ons bly stil. Ons moenie wag tot môre nie, dit sal verkeerd wees. Kom ons gaan vertel dit vir die mense by die paleis.”

10. Hulle kom toe by die poort van die stad en hulle skree vir die wagte: “Ons het in die Arameërs se kamp gekom, en daar was niemand nie. Die perde en donkies is daar vasgemaak, en die tente is ook nog daar.”

11. Die wagte het dit by die paleis gaan vertel,

12. en toe die koning dit daardie nag hoor, het hy opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek weet wat die Arameërs met ons wil doen. Hulle weet ons is honger. Hulle het uitgegaan uit die kamp en hulle het in die veld gaan wegkruip. Hulle wil ons lewendig vang wanneer ons uit die stad kom, sodat hulle in die stad kan inkom.”

13. Een van die amptenare van die koning sê toe: “Die perde wat nog oor is in die stad, sal ook doodgaan soos baie van ons mense. Kom ons neem vyf van die perde en ons stuur mense om te gaan kyk.”

14. Hulle het toe twee oorlogkarre en perde geneem, en die koning het manne gestuur om te gaan kyk waar die Arameërs is.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 7