Ou Testament

Nuwe Testament

Judas 1:5-21 Bybel vir Almal (ABA)

5. Ek weet dat julle al hierdie dinge weet, maar ek wil dit weer vir julle sê. Die Here het lank gelede die mense van Israel uit die land Egipte gered. Maar later het Hy die mense wat nie in Hom geglo het nie, verlore laat gaan.

6. Julle onthou ook die engele wat nie aangehou het om te doen wat hulle moes doen nie. Hulle het weggegaan uit hulle woonplek in die hemel. Die Here het hulle vir altyd vasgemaak met kettings en Hy het hulle in die donker plek laat bly totdat Hy hulle sal straf op die dag wanneer Hy almal sal oordeel.

7. Julle moet ook onthou wat met die stede Sodom en Gomorra en die stede naby hulle gebeur het. Daardie mense het onsedelik gelewe en hulle wou ook graag seks hê met engele. Daarom is hierdie stede ’n duidelike voorbeeld, dit wys hoe die Here daardie sondes straf met die vuur wat altyd brand.

8. Hierdie vals leermeesters doen dieselfde verkeerde dinge soos daardie sondaars. Hulle droom en sien dinge, en daarom doen hulle sonde, hulle maak hulle liggame onrein met sonde. Hulle wil nie gehoorsaam wees aan die Here nie en hulle sê slegte dinge van engele.

9. Maar Migael, die groot engel, het nie dieselfde gedoen nie. Migael het met die duiwel gestry en getwis oor wie die liggaam van Moses mag kry. Migael het toe nie self slegte dinge gesê van die duiwel nie en hy het nie die duiwel ge-oordeel nie. Nee, Migael het vir die duiwel gesê: “Die Here sal jou straf!”

10. Maar hierdie mense wat nie die Here dien nie, sê slegte dinge van almal en alles wat hulle nie verstaan nie. Hulle verstaan party dinge, maar hulle verstaan soos wilde diere wat nie verstand het nie, en dit is daardie dinge wat hulle sal laat sterf.

11. Dit sal sleg gaan met hierdie vals leermeesters, want hulle lewe verkeerd en hulle doen sonde soos Kain. Bileam het probeer om die Israeliete te verlei om sonde te doen, hy het dit gedoen sodat hy ’n beloning kon kry. Hierdie vals leermeesters lewe ook so. Hulle is so opstandig soos Korag, en die Here sal hulle verlore laat gaan.

12. Julle is gelowiges en wanneer julle vóór die nagmaal saam eet omdat julle lief is vir mekaar, dan is hierdie vals leermeesters ook daar, hulle is soos gevaarlike rotse onder die water, rotse wat ’n skip kan laat sink. Hulle eet en drink en vier fees saam met julle, maar hulle sorg net vir hulleself en hulle is nie skaam daaroor nie. Hierdie vals leermeesters is soos wolke wat nie reën bring nie, die wind waai hulle weg. Hulle is soos vrugtebome wat nie vrugte dra nie. Hulle is so dood soos bome wat mense uit die grond getrek het, ja, hulle is heeltemal dood.

13. Hulle sonde is soos die vuil skuim op die wilde branders van die see wanneer daar ’n storm is. So kan ’n mens hulle skandes sien. Hulle is soos sterre wat verdwaal het. Daarom het die Here vir hulle ’n plek gereedgemaak in die donker plek, die baie donker plek.

14. Henog, die sewende voorvader ná Adam, het ook die Here se boodskap gebring oor hierdie vals leermeesters. Hy het gesê: “Julle moet dit weet: Die Here sal kom met sy tienduisende heilige engele

15. om almal te oordeel. Die Here sal kom om al die sondaars te straf, Hy sal ook die mense straf wat Hom nie dien nie. Hy sal hulle straf oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het en oor al die slegte dinge wat hulle teen Hom gesê het.”

16. Hierdie mense is altyd ontevrede met ander mense, hulle kla altyd oor alles, en hulle doen net die slegte dinge wat hulle self graag wil doen. Wanneer hulle praat, dan spog hulle en hulle sê mooi dinge van ander mense, maar hulle is nie eerlik nie. Hulle sê dit sodat hulle iets van daardie mense kan kry.

17. My vriende, julle moet die woorde onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen gesê het.

18. Hulle het vir julle gesê: “In die laaste dae van die wêreld sal daar mense wees wat sal aanhou spot, terwyl hulle die slegte dinge doen wat hulle self graag wil doen.”

19. Hierdie mense wat altyd wil spot, sê en doen dinge wat gelowiges vyande laat word van mekaar. Hierdie mense wat altyd wil spot, lewe soos mense van hierdie wêreld omdat hulle nie die Heilige Gees in hulle harte het nie.

20. Maar, my vriende, julle moet aanhou om mekaar te help en te bemoedig. Julle moet mekaar bou soos mense ’n huis bou. Die goeie boodskap wat van God kom, moet die fondament wees. Julle moet luister na die Heilige Gees wanneer julle bid.

21. God is lief vir julle, daarom moet julle mekaar goed oppas. Julle moet dit doen terwyl julle wag dat ons Here Jesus Christus vir julle die ewige lewe sal gee. Hy sal dit vir julle gee omdat Hy goed wil wees vir julle.

Lees volledige hoofstuk Judas 1