Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 9:9-24 Bybel vir Almal (ABA)

9. Hierdie eerste kamer is ’n voorbeeld van die tyd wanneer mense presente en offers bring, maar die presente en offers kan nie die mense wat vir God dien, help om heeltemal te weet wat is reg en wat is verkeerd nie.

10. Daardie offers was net oor reëls wat sê wat ’n mens moet doen en wat jy nie moet doen nie, dinge wat ander mense kan sien. Dit was reëls oor dinge wat mense geëet of gedrink het en oor hoe hulle mense moes was om hulle rein te maak. Maar hierdie reëls bly net daar totdat die tyd kom wanneer God alles reg en nuut sal maak.

11. Maar Christus het gekom om Hoëpriester te wees en Hy laat goeie dinge gebeur. Hy het deur die groter en beter tempel-tent gegaan. Dit is nie mense wat hierdie tempel-tent gebou het nie, dit is God, en hierdie tempel-tent is ook nie in hierdie wêreld nie.

12. Christus het net een maal en vir altyd in die hoog-gewyde kamer ingegaan en Hy sal nooit weer daar moet ingaan nie. Hy het daar ingegaan, maar nie soos die hoëpriester met die bloed van bokke en kalwers nie. Hy het gesterf en Hy het sy eie bloed daar ingeneem, en so het Hy ons vir altyd gered.

13. Die priesters het op onrein mense die bloed gespat van bokke en bulle en die as van ’n vers-kalf wat heeltemal verbrand het en wat hulle in water gegooi het. Wanneer die priesters dit gedoen het, dan het dit die onrein mense gereinig en dan was hulle rein. Dan kon hulle weer in die tempel kom en vir God dien.

14. Christus het ’n offer vir God geword, die Heilige Gees wat altyd lewe, het Hom gehelp om ’n offer te wees wat heeltemal gesond is. Daarom sal die bloed van Christus ons reinig, baie beter as die offers van bokke en bulle, en dan sal ons ophou om dinge te doen wat ons geestelik dood laat word, en ons sal heeltemal weet wat is reg en wat is verkeerd. Dan sal ons vir God kan dien, God wat lewe.

15. Christus het gesterf om mense vry te maak, God het hulle nie gestraf oor die dinge wat hulle verkeerd gedoen het in die tyd van die ou verbond nie. Daarom is Hy die Middelaar van die nuwe verbond. God het mense gekies, en Christus het die nuwe verbond gebring sodat daardie mense vir altyd alles kan kry wat Hy vir hulle belowe het.

16. Wanneer ’n persoon ’n testament gemaak het, dan moet die mense wat sy goed erf, eers wag tot daardie persoon dood is,

17. want mense kan eers doen wat die testament sê wanneer die persoon wat dit gemaak het, dood is. ’n Testament beteken niks wanneer die persoon wat dit gemaak het, nog lewe nie.

18. Daarom, toe God die eerste verbond met die volk gemaak het, was daar ook bloed.

19. Want nadat Moses vir die volk vertel het van al die reëls van die wette, het hy die bloed van kalwers en bokke saam met water geneem. Hy het hisop-takkies vasgemaak met rooi wol en hy het bloed en water gespat op die boek van die wette en op die hele volk,

20. en hy het gesê: “Dit is die bloed wat wys dat God ’n verbond gemaak het met julle. God het gesê julle moet doen wat die verbond vir julle sê.”

21. Moses het ook so bloed gespat op die tempel-tent en op al die dinge waarmee die priesters hulle werk gedoen het.

22. Ja, die wette sê dat die priesters amper alles moet reinig met bloed. God vergewe nie sonde as daar nie bloed vloei nie.

23. Die dinge in die tempel-tent hier op die aarde het gelyk soos die dinge in die hemel. Daarom moes die priesters hierdie dinge op die aarde reinig met hierdie dinge waaroor ons nou gepraat het. Maar iemand moet die dinge in die hemel self reinig met beter offers, dit moet beter wees as die offers wat die aardse tempel-tent gereinig het.

24. Dit is mense wat hierdie tempel-tent hier op die aarde gebou het, en hierdie tempel-tent lyk soos die ware tempel-tent in die hemel. Maar Christus het nie ingegaan in die tempel-tent op die aarde nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan. Christus het daar ingegaan om by God te wees. Christus het ingegaan om ons te help.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 9