hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 9 Bybel vir Almal (ABA)

Die tempel-tent op die aarde

1. Die eerste verbond het ook reëls gehad wat sê hoe die mense vir God moet dien, en dit het ook ’n gewyde tent hier op aarde gehad waar die mense vir God kon dien.

2. Die Israeliete het die tempel-tent gebou. In die eerste kamer was die lampstaander en die tafel met die offer-brood. Hulle het die eerste kamer genoem die “gewyde kamer.”

3. Agter die tweede gordyn was die tweede kamer wat hulle die “hoog-gewyde plek” genoem het.

4. In hierdie kamer was die goue wierook-altaar en die verbondskis wat hulle heeltemal oorgetrek het met goud. In die kis was die goue kruik waarin daar manna was, en die kierie van Aäron waaraan daar takkies en blare gegroei het, en die twee plat klippe van die verbond waarop die tien gebooie was.

5. Op die kis was die gerubs wat wys dat God daar is. Die skaduwee van die gerubs se vlerke was oor die deksel van die kis, die plek waar God die mense se sondes versoen het. Daar is nie nou tyd om te praat oor elkeen van al hierdie dinge in die tempel-tent nie.

6. Die Israeliete het al hierdie dinge so gereedgemaak. Die priesters het altyd in die eerste tent ingegaan om daar die werk van priesters te doen.

7. Maar in die tweede tent het net die hoëpriester ingegaan, een maal elke jaar. Hy het altyd bloed saamgeneem wanneer hy daar ingegaan het, die bloed wat hy ge-offer het vir sy eie sondes en vir die sondes wat die volk gedoen het toe hulle nie geweet het dat dit sonde is nie.

8. So wys die Heilige Gees dat die pad na die regte hoog-gewyde plek in die hemel nie oop is terwyl die eerste kamer nog daar is nie.

9. Hierdie eerste kamer is ’n voorbeeld van die tyd wanneer mense presente en offers bring, maar die presente en offers kan nie die mense wat vir God dien, help om heeltemal te weet wat is reg en wat is verkeerd nie.

10. Daardie offers was net oor reëls wat sê wat ’n mens moet doen en wat jy nie moet doen nie, dinge wat ander mense kan sien. Dit was reëls oor dinge wat mense geëet of gedrink het en oor hoe hulle mense moes was om hulle rein te maak. Maar hierdie reëls bly net daar totdat die tyd kom wanneer God alles reg en nuut sal maak.

Die tempel-tent in die hemel

11. Maar Christus het gekom om Hoëpriester te wees en Hy laat goeie dinge gebeur. Hy het deur die groter en beter tempel-tent gegaan. Dit is nie mense wat hierdie tempel-tent gebou het nie, dit is God, en hierdie tempel-tent is ook nie in hierdie wêreld nie.

12. Christus het net een maal en vir altyd in die hoog-gewyde kamer ingegaan en Hy sal nooit weer daar moet ingaan nie. Hy het daar ingegaan, maar nie soos die hoëpriester met die bloed van bokke en kalwers nie. Hy het gesterf en Hy het sy eie bloed daar ingeneem, en so het Hy ons vir altyd gered.

13. Die priesters het op onrein mense die bloed gespat van bokke en bulle en die as van ’n vers-kalf wat heeltemal verbrand het en wat hulle in water gegooi het. Wanneer die priesters dit gedoen het, dan het dit die onrein mense gereinig en dan was hulle rein. Dan kon hulle weer in die tempel kom en vir God dien.

14. Christus het ’n offer vir God geword, die Heilige Gees wat altyd lewe, het Hom gehelp om ’n offer te wees wat heeltemal gesond is. Daarom sal die bloed van Christus ons reinig, baie beter as die offers van bokke en bulle, en dan sal ons ophou om dinge te doen wat ons geestelik dood laat word, en ons sal heeltemal weet wat is reg en wat is verkeerd. Dan sal ons vir God kan dien, God wat lewe.

Jesus die Middelaar van die Nuwe Verbond

15. Christus het gesterf om mense vry te maak, God het hulle nie gestraf oor die dinge wat hulle verkeerd gedoen het in die tyd van die ou verbond nie. Daarom is Hy die Middelaar van die nuwe verbond. God het mense gekies, en Christus het die nuwe verbond gebring sodat daardie mense vir altyd alles kan kry wat Hy vir hulle belowe het.

16. Wanneer ’n persoon ’n testament gemaak het, dan moet die mense wat sy goed erf, eers wag tot daardie persoon dood is,

17. want mense kan eers doen wat die testament sê wanneer die persoon wat dit gemaak het, dood is. ’n Testament beteken niks wanneer die persoon wat dit gemaak het, nog lewe nie.

18. Daarom, toe God die eerste verbond met die volk gemaak het, was daar ook bloed.

19. Want nadat Moses vir die volk vertel het van al die reëls van die wette, het hy die bloed van kalwers en bokke saam met water geneem. Hy het hisop-takkies vasgemaak met rooi wol en hy het bloed en water gespat op die boek van die wette en op die hele volk,

20. en hy het gesê: “Dit is die bloed wat wys dat God ’n verbond gemaak het met julle. God het gesê julle moet doen wat die verbond vir julle sê.”

21. Moses het ook so bloed gespat op die tempel-tent en op al die dinge waarmee die priesters hulle werk gedoen het.

22. Ja, die wette sê dat die priesters amper alles moet reinig met bloed. God vergewe nie sonde as daar nie bloed vloei nie.

Christus se offer neem die sondes weg

23. Die dinge in die tempel-tent hier op die aarde het gelyk soos die dinge in die hemel. Daarom moes die priesters hierdie dinge op die aarde reinig met hierdie dinge waaroor ons nou gepraat het. Maar iemand moet die dinge in die hemel self reinig met beter offers, dit moet beter wees as die offers wat die aardse tempel-tent gereinig het.

24. Dit is mense wat hierdie tempel-tent hier op die aarde gebou het, en hierdie tempel-tent lyk soos die ware tempel-tent in die hemel. Maar Christus het nie ingegaan in die tempel-tent op die aarde nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan. Christus het daar ingegaan om by God te wees. Christus het ingegaan om ons te help.

25. Die hoëpriester gaan elke jaar in die hoog-gewyde kamer in om bloed te offer, maar hy offer nie sy eie bloed nie. Christus het in die hemel ingegaan, maar nie om baie maal te offer soos die hoëpriester nie, Hy het Homself net een maal ge-offer.

26. As Christus Homself meer as een maal ge-offer het, dan moes Hy baie maal gely het vandat God die wêreld gemaak het. Nee, Christus het nou een maal verskyn aan die einde van hierdie tyd om die sondes weg te neem. Hy het Homself ge-offer om die sondes weg te neem.

27. Al die mense moet een maal sterf, en daarna sal God hulle oordeel.

28. So het die Christus Homself ook net een maal ge-offer om die sondes van baie mense weg te neem. Maar wanneer Hy die tweede maal verskyn, dan sal Hy nie kom om te sterf en om sonde weg te neem nie, Hy sal dan kom om die mense te red wat vir Hom wag.