hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die samekoms by Sigem

1. Josua het al die stamme van Israel bymekaargebring in Sigem. Hy het die leiers van Israel, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep, en hulle het hulle plekke kom inneem in die teenwoordigheid van God.

2. Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders — onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor — anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien.

3. Ek het julle voorvader Abraham anderkant die Eufraat geneem en hom die hele Kanaän laat deurgaan. Ek het hom baie nakomelinge gegee. Aan hom het Ek vir Isak gegee,

4. aan Isak vir Jakob en Esau. Aan Esau het Ek die Seïrberge gegee om in besit te neem, maar Jakob en sy nageslag is af na Egipte toe.

5. “Ek het vir Moses en Aäron gestuur en Ek het Egipte met rampe getref soos Ek dit goedgevind het. Daarna het Ek julle uitgebring:

6. Ek het julle voorvaders uit Egipte gebring, en toe hulle by die Rietsee kom, het die Egiptenaars hulle agtervolg met strydwaens en ruiters.

7. Julle voorvaders het na My geroep om hulp, en Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars en die see oor die Egiptenaars laat kom sodat dit hulle bedek het. Julle eie oë het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle lank in die woestyn gebly.

8. “Toe het Ek julle gebring na die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee sodat julle hulle land in besit kon neem. Ek het hulle uitgeroei om vir julle plek te maak.

9. “Toe Balak seun van Sippor en koning van Moab teen Israel oorlog wou maak, het hy vir Bileam seun van Beor laat roep om 'n vloek oor julle uit te spreek.

10. Maar Ek het nie na Bileam geluister nie, en hy moes julle teen wil en dank seën. So het Ek julle gered uit die hande van Balak.

11. “Julle het deur die Jordaan getrek en by Jerigo gekom. Die mense wat in besit was van Jerigo, die Amoriete, Feresiete, Kanaäniete, Hetiete, Girgasiete, Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee.

12. Ek het al vantevore die twee Amoritiese konings laat moed verloor, en dít het hulle voor julle uit verdryf, nie julle swaarde en julle pyl en boë nie.

13. “Ek het julle 'n land gegee wat julle nie bewerk het nie, stede wat julle nie gebou het nie, maar waar julle kon gaan woon; julle eet van wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie.

14. “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here.

15. Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

16. Die volk het geantwoord: “Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie.

17. Dit is die Here ons God wat ons en ons voorvaders uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het. Hy het daardie groot wonders voor ons oë gedoen en Hy het ons beskerm op die hele pad wat ons gekom het en teen al die volke deur wie se gebiede ons getrek het.

18. Die Here het al die volke voor ons uit verdryf, die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.”

19. Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle kan nie die Here dien nie. Hy is 'n heilige God, Hy is 'n God wat onverdeelde trou eis en julle opstandigheid en sonde nie sal vergewe nie.

20. As julle die Here verlaat en julle dien vreemde gode, sal Hy wat aan julle goed gedoen het, teen julle draai en rampe oor julle bring en 'n end aan julle maak.”

21. Die volk het vir Josua gesê: “Nee, ons sal die Here dien!”

22. Toe sê Josua vir die volk: “Julle is self getuies daarvan dat julle gekies het om die Here te dien,” en hulle antwoord: “Ons is.”

23. Toe sê Josua: “Verwyder dan die vreemde gode tussen julle uit en wy julle heeltemal aan die Here die God van Israel.”

24. En die volk sê vir Josua: “Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.”

25. Josua het daardie dag vir die volk 'n verbond gesluit en vir hulle daar in Sigem voorskrifte en bepalings vasgelê.

26. Hy het dié dinge in die wetboek van God opgeskryf, 'n groot klip gevat en dit daar onder 'n groot boom by die heiligdom van die Here regop gesit.

27. Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle dié klip? Hy sal die getuie teen ons wees. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Hy sal die getuie teen julle wees dat julle nie julle God bedrieg nie.”

28. Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond toe.

Die dood van Josua en Eleasar

29. Na hierdie gebeure het Josua seun van Nun, dienaar van die Here, gesterf. Hy was honderd en tien jaar.

30. Hy is begrawe in die gebied wat aan hom gegee was as besitting, in Timnat-Serag in die Efraimsberge, noord van Gaäsberg.

31. Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.

32. Die liggaam van Josef wat deur die Israeliete uit Egipte gebring is, is in Sigem begrawe, in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, vader van Sigem, gekoop het vir honderd stukke silwer. Die grond het die eiendom van die nakomelinge van Josef geword.

33. Ook Eleasar seun van Aäron is oorlede. Hy is begrawe in Gibea, 'n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas toegeken was.