hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Israelitiese gebied wes van die Jordaan

1. Hier volg nou 'n oorsig van die gebiede wat die Israeliete in Kanaän ontvang het. Die priester Eleasar en Josua seun van Nun het saam met die stamhoofde die gebiede aan die Israeliete toegeken,

2. dit is aan die nege stamme en die halwe stam. Dit is gedoen deur loting soos die Here deur Moses beveel het.

3. Aan die ander twee stamme en die halwe stam het Moses 'n gebied oorkant die Jordaan toegeken, en aan die Leviete het hy nie 'n gebied toegeken saam met die ander nie.

4. Die nageslag van Josef het twee stamme gevorm, Manasse en Efraim, en die Leviete het nie 'n deel van die land ontvang nie, maar wel dorpe om in te woon en weidingsgebiede vir hulle veetroppe.

5. Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses beveel het, hulle het die land verdeel.

Hebron word aan Kaleb toegeken

6. Toe die mense van Juda na Josua toe gekom het in Gilgal, het Kaleb seun van Jefunne, 'n Kenassiet, vir Josua gesê: “Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, oor jou en oor my gesê het in Kades-Barnea.

7. Ek was veertig toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken. Ek het aan hom verslag gedoen soos ek sake gesien het,

8. maar my medeverkenners wat saam met my gegaan het, het die volk se hart laat verstyf van angs. Ek het die Here my God getrou gevolg,

9. en Moses het my daardie dag met 'n eed belowe: ‘Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God.’

10. “Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou 'n man van vyf en tagtig,

11. maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom.

12. Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.”

13. Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb seun van Jefunne en aan hom Hebron as besitting toegeken.

14. Daarom behoort Hebron tot vandag toe aan Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet. Dit is omdat hy die Here die God van Israel getrou gevolg het.

15. Die naam van Hebron was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die naam van 'n groot man onder die Enakiete.Die oorlog was verby, die land het gerus.