hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die inname van Jerigo

1. Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie.

2. Die Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee.

3. Julle moet om die stad loop; al die manne onder wapen moet een maal om die stad gaan, en dit moet julle ses dae lank doen.

4. Sewe priesters moet elkeen 'n ramshoring voor die ark uit dra.“Die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas,

5. en sodra die ramshorings blaas en julle dit hoor, moet al die manskappe die aanvalskreet hard uitskreeu. Die muur van die stad sal dan inmekaar stort en die manskappe kan oorklim, elkeen reguit vorentoe.”

6. Josua seun van Nun het die priesters geroep en vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en laat sewe priesters elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit dra.”

7. Vir die manskappe het hy gesê: “Kom verby en loop om die stad. Die gewapende manne moet verbygaan voor die ark van die Here uit.”

8. Josua was nog besig om met die manskappe te praat, toe kom die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, verby en blaas die ramshorings terwyl die verbondsark van die Here agter hulle aan kom.

9. Die gewapende manne het voor die priesters geloop wat die ramshorings blaas, en die agterhoede het die ark gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.

10. Josua het die manskappe beveel: “Julle moenie skreeu of 'n geluid laat hoor nie; nie 'n woord moet uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie, dan moet julle skreeu.”

11. Josua het die ark van die Here toe om die stad laat gaan. Toe dit een maal om was, het hulle na die kamp toe teruggegaan en die nag in die kamp deurgebring.

12. Die volgende môre het Josua vroeg begin. Die priesters het die ark van die Here gedra.

13. Die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, het die ramshorings geblaas terwyl hulle loop; die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.

14. Hulle het die tweede dag een maal om die stad geloop en het toe teruggegaan kamp toe. Dit het hulle ses dae gedoen.

15. Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan.

16. Na die sewende maal het die priesters die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Skreeu! Die Here gee die stad aan julle oor!

17. Dit moet heeltemal uitgedelg word as banoffer vir die Here: die stad en al wat daarin is, behoort aan die Here. Net die prostituut Ragab mag lewe, sy en almal by haar in die huis, want sy het die verkenners wat deur ons uitgestuur is, weggesteek.

18. Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor.

19. Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.”

20. Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem

21. en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud, selfs die beeste, die skape en die donkies.

22. Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met 'n eed beloof het.”

23. Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle 'n plek buite die kamp van Israel ingerig.

24. Die stad met alles daarin is verbrand, net die silwer en goud en die brons- en ystergoed is in die skatkis van die huis van die Here gesit.

25. Josua het die prostituut Ragab en haar familie, al haar mense, laat lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, omdat sy die manne vir wie Josua gestuur het om Jerigo te verken, weggesteek het.

26. Josua het destyds plegtig verklaar:“Die Here sal die man strafwat dié stad, Jerigo, probeer herbou.Dit sal hom sy oudste seun kosas hy die fondament lêen sy jongste as hy die poortdeure hang.”

27. Die Here was by Josua. Josua was oor die hele land bekend.