hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die opdrag aan Josua

1. Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê:

2. “Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee.

3. Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom:

4. van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste, alles sal julle woongebied wees.

5. “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie.

6. Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het.

7. “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan.

8. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.

9. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Josua se bevele aan die volk

10. Josua het die beamptes van die volk beveel:

11. “Gaan die kamp deur en sê vir die mense: Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae trek julle deur die Jordaan en gaan julle die land in besit neem wat die Here julle God julle as besitting gee.”

12. Vir die stamme Ruben en Gad en vir die halwe Manassestam het Josua gesê:

13. “Julle onthou die woorde van Moses die dienaar van die Here. Hy het vir julle gesê: ‘Die Here julle God sal vir julle 'n vaste woonplek gee; Hy sal julle hierdie gebied gee.’

14. Julle vrouens en kinders en julle vee kan in die gebied aan hierdie kant van die Jordaan bly wat Moses aan julle toegeken het, maar julle, elke weerbare man, moet in formasie voor julle volksgenote uit optrek en hulle help.

15. Eers nadat die Here aan julle volksgenote 'n vaste woonplek gegee het soos vir julle, en hulle ook die gebied in besit geneem het wat die Here julle God aan hulle gee, kan julle terugkom. Dan kan julle julle eie gebied wat Moses die dienaar van die Here aan julle oos van die Jordaan toegeken het, in besit neem.”

16. Hulle het Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat u ons opdra, ons sal gaan waar u ons ook al stuur.

17. Soos ons aan Moses gehoorsaam was, so sal ons aan u gehoorsaam wees. Mag die Here u God by u wees soos Hy by Moses was.

18. Elke man wat hom teen u bevele verset en nie gehoorsaam is aan al die bevele wat u gee nie, sal doodgemaak word. Wees u net sterk en vasberade.”