hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jou profete is soos jakkalse tussen die puinhope

1. Die woord van die Here het tot my gekom:

2. “Mens, tree jy as profeet op teen die mense wat hulle as profete van Israel voordoen. Sê vir dié mense wat as profete optree uit hulle eie verbeelding: Hoor die woord van die Here!

3. So sê die Here my God: Ellende wag vir die verwaande profete wat geen gesigte gesien het nie en hulle deur hulle eie gedagtes laat lei.

4. Jou profete is soos jakkalse tussen die puinhope, Israel.

5. Hulle het nie gegaan na waar die muur omgeval het en weer 'n muur om Israel gebou sodat hy staande kan bly in die oorlog wanneer die oordeelsdag van die Here kom nie.

6. Hulle het gesigte gesien wat nie daar was nie en hulle waarsêery is leuens. Hulle sê: ‘Die Here sê’ al het Hy hulle nie gestuur nie, en dan verwag hulle dat Hy moet laat uitkom wat hulle sê.

7. Hulle sien gesigte wat nie daar was nie en hulle verkondig leuens as waarsêery, hulle sê: ‘Die Here sê’, maar Ek het dit nie gesê nie.

8. “Daarom,” so sê die Here my God, “omdat wat hulle sê, vals is en omdat wat hulle as gesigte sien, leuens is, is Ek hulle teenstander,” sê die Here my God.

9. “Ek tree op teen die profete wat gesigte sien wat nie daar was nie en wat leuens uitgee vir waarsêery. Hulle sal nie plek hê in die vertroulike byeenkoms van my volk nie, nie opgeskryf word in die boek van Israel nie en nie op die grondgebied van Israel kom nie. Dan sal hulle besef dat Ek die Here God is.

10. “Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: ‘Dit sal goed gaan’ toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk 'n muur bou, het daardie profete dit netjies afgewit.

11. “Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde sal losbreek.

12. Die muur gaan val, en die mense sal vir julle vra: ‘Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?’

13. “Daarom,” so sê die Here my God, “laat Ek stormwinde losbreek in my gramskap, laat Ek stortreëns in my toorn, haelstene in my gramskap kom om alles te vernietig.

14. Ek breek die muur af wat julle so netjies afgewit het, Ek maak hom gelyk met die grond. Sy fondamente sal sigbaar word, hy sal val en julle sal in sy puin aan julle einde kom. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.

15-16. Ek sal my gramskap laat uitwoed teen die muur en teen dié wat hom afgewit het en Ek sal vir julle sê: Daar is nie meer 'n muur nie en dié wat hom afgewit het, die profete van Israel, is nie meer daar nie. Dit is hulle wat vir Jerusalem as profete opgetree het, vir die stad gesigte gesien het oor hoe goed dit sou gaan terwyl dit nie goed sou gaan nie.”Dit is wat die Here my God gesê het.

17. “Mens, praat met die vroue van jou volk, dié wat as profete optree uit hulle eie verbeelding, wees jy 'n profeet teen hulle.

18. Jy moet sê: So sê die Here my God: Ellende wag vir dié wat toorbande om hulle gewrigte vaswerk en sluiers van allerlei lengtes aansit om mense in hulle mag te kry. Kan julle my volk in julle mag kry en julle eie lewens behou?

19. Julle het my Naam ontwy onder my volk vir 'n paar handevol gars en 'n paar stukkies brood. Julle het mense doodgemaak wat nie moes gesterwe het nie, julle het mense in die lewe laat bly wat nie moes bly lewe het nie. Julle het dit gedoen deur my volk te belieg, hulle wat so graag leuens hoor.

20. “Daarom,” so sê die Here my God, “pluk Ek die toorbande van julle arms af, die bande waarmee julle mense soos voëltjies in julle mag gekry het, en laat Ek die mense vry vir wie julle so in julle mag gekry het.

21. Ek ruk julle sluiers af en red my volk uit julle mag. Hulle sal nie meer 'n magtelose prooi in julle hande wees nie. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.

22. Julle het met julle leuens mense wat my wil wou doen, laat moed verloor; Ek het hulle nie smart aangedoen nie. Julle het goddelose mense aangemoedig om hulle nie van hulle verkeerde lewe te bekeer en so hulle lewens te behou nie.

23. Daarom sal julle nie meer gesigte sien wat nie daar is nie en sal julle nie met julle waarsêery aangaan nie. Ek sal my volk red uit julle mag. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”