hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hulle sal in ballingskap gaan

1. Die woord van die Here het tot my gekom:

2. “Mens, jy woon tussen 'n weerbarstige volk. Hulle het oë om te sien, maar hulle sien nie. Hulle het ore om te hoor, maar hulle hoor nie. Hulle is 'n weerbarstige volk.

3. Jy, mens, moet die goed vat wat jy saam met jou in ballingskap sou wou neem en vandag nog weggaan van waar jy is na 'n ander plek toe asof jy in ballingskap weggaan. Hulle moet jou dit kan sien doen. Miskien sien hulle dit raak, maar hulle is 'n weerbarstige volk.

4. Jy moet die goed wat jy in ballingskap sou wou saamvat, vandag uitbring waar hulle dit sien, en vanaand terwyl hulle jou sien, moet jy vertrek asof jy in ballingskap weggaan.

5. Breek voor hulle oë 'n gat in die muur en gaan daardeur.

6. Sit die goed voor hulle oë op jou skouers en vertrek in die donker. Maak jou gesig toe sodat jy nie die land sien nie. Ek maak jou 'n teken vir Israel.”

7. Ek het gedoen wat my beveel is. Ek het die dag my goed wat ek in ballingskap sou wou saamvat, uitgebring en die aand het ek met my hande 'n gat deur die muur gebreek. Ek het in die donker vertrek terwyl ek my goed voor hulle oë op my skouers gedra het.

8. Die môre het die woord van die Here tot my gekom:

9. “Mens, die weerbarstige volk Israel het vir jou gevra wat maak jy.

10. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Hierdie uitspraak gaan oor die koning in Jerusalem en oor al die Israeliete wat in die stad is.

11. “Jy moet sê: ‘Ek is vir julle 'n teken. Soos ek gedoen het, so sal met julle gedoen word.’“Hulle sal gevangenes word en in ballingskap weggevoer word.

12. Die koning wat tussen hulle is, sal sy goed in die donker op sy skouers sit en vertrek. Hy sal 'n gat deur die muur breek om deur te gaan en hy sal sy gesig toemaak sodat hy nie die land kan sien nie.

13. Ek gooi my vangnet oor hom, hy sal gevang word in my net, en Ek sal hom na Babel, na Galdeërland toe bring, maar hy sal dit nie sien nie en sal daar sterf.

14. Almal by hom wat hom help, al sy soldate wat hom help, sal Ek in al die windrigtings verstrooi en hulle met die swaard agtervolg.

15. Wanneer Ek hulle uitmekaargejaag het onder die nasies in en hulle oor baie lande verstrooi het, sal hulle besef dat Ek die Here is.

16. Maar Ek sal 'n paar van hulle laat oorbly ná die oorlog, die hongersnood en die pes sodat hulle van hulle afskuwelike dade kan vertel waar hulle onder die nasies kom en die nasies sal besef dat Ek die Here is.”

17. Die woord van die Here het tot my gekom:

18. “Mens, jy moet jou kos al bewende eet en jou water met ontsteltenis en met kommer drink.

19. En jy moet vir die burgers van die land sê: So sê die Here my God vir die inwoners van Jerusalem, vir die land Israel: Hulle sal hulle kos met kommer eet en hulle water met huiwering drink, want die land sal gestroop word van alles wat daarin is omdat almal wat daar gewoon het, soveel geweld gepleeg het.

20. Die stede wat bewoon is, sal puinhope word en die land sal verlate wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Wat Ek gesê het, sal nou gebeur

21. Die woord van die Here het tot my gekom:

22. “Mens, wat se spreekwoord is dit wat julle oor die land Israel het? Julle sê: ‘Die tyd gaan verby en daar kom niks van al die gesigte nie.’

23. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek maak 'n end aan dié spreekwoord. Hulle sal hom nie weer in Israel gebruik nie. Sê vir hulle: Die tyd kom vinnig nader en so ook die vervulling van elke gesig.

24. Daar sal nie meer vertel word van gesigte wat nie daar was nie, en daar sal nie meer gladde waarsêerpraatjies onder Israel wees nie.

25. Ek, die Here, sê wat Ek sê, en dit gebeur en word nie meer uitgestel nie. In julle tyd, weerbarstige volk, sê Ek dit, en Ek sal dit doen,” sê die Here my God.

26. Die woord van die Here het tot my gekom:

27. “Mens, die Israeliete sê: ‘Dié gesig wat hy sien, gaan oor lang tye, hy kondig dinge aan vir die verre toekoms.’

28. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Niks van wat Ek gesê het, sal meer uitgestel word nie. Wat Ek gesê het, sal nou gebeur,” sê die Here my God.