hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 43 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die gesig oor die verskyning van die Here

1. Daarna het die man my na die poort toe gebring wat oos gekyk het.

2. Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit. Die stem van die Here was soos die gedruis van baie waters, en sy magtige verskyning het die hele aarde verlig.

3. Die gesig wat ek gesien het, het ooreengekom met die gesig wat ek gesien het toe ek die verwoesting van die stad moes aankondig, en ook met die gesig wat ek aan die Kebarrivier gesien het. Ek het platgeval.

4. Die magtige teenwoordigheid van die Here het deur die oospoort na die tempel toe beweeg.

5. Toe het die Gees my opgetel en my na die binneste voorhof toe gebring. Die tempel was vol van die magtige teenwoordigheid van die Here.

6. Terwyl die man met die meetstok daar langs my staan, hoor ek Iemand met my uit die tempel uit praat.

7. Hy het vir my gesê: “Mens, dit is die plek waar Ek my troon het, waar Ek vir altyd teenwoordig is tussen die Israeliete. Hulle en hulle konings sal nie weer my heilige Naam oneer aandoen deur afgodery te pleeg en die lyke van hulle konings hier te begrawe nie.

8. Die konings het hulle paleis se drumpel en deurkosyn teenaan my huis s'n gesit, sodat daar net 'n muur tussen ons was en hulle het my heilige Naam oneer aangedoen met hulle afskuwelike optrede. Daarom het Ek hulle in my toorn vernietig.

9. As die volk nou hulle afgodery laat staan en die lyke van hulle konings uit my teenwoordigheid wegvat, sal Ek altyd tussen hulle woon.

10. “Mens, jy moet die tempel vir Israel beskrywe, sodat hulle kan skaam kry oor hulle oortredings. Laat hulle die plan van die tempel nagaan,

11. en wanneer hulle skaam word oor alles wat hulle gedoen het, moet jy hulle op die hoogte bring van die uitleg van die tempel: sy ontwerp, sy uitgange, sy ingange, sy hele uitleg en al die voorskrifte en reëlings wat vir hom geld. Jy moet dit voor hulle oë neerskryf, sodat hulle die hele uitleg van die tempel en al die voorskrifte wat vir hom geld, in ag kan neem en daarvolgens kan optree.

12. Die reëling in verband met die tempel is dat die top van die berg en die hele gebied rondom uitsluitend aan My gewy is. Dit, en niks minder nie, is die reëling in verband met die tempel.”

Die altaar in die binneste voorhof

13. Die afmetings van die altaar, gemeet met die maat wat vir die heiligdom geld, was soos volg: die afleivoor was 'n half meter diep en 'n half meter breed, en sy rand was rondom 'n kwart meter breed. Die hoogte van die altaar was soos volg:

14. van die afleivoor af na die onderste vlak toe was die hoogte een meter. Die vlak was 'n half meter wyer as die volgende; van die onderste na die boonste vlak toe was die hoogte twee meter. Die boonste vlak was 'n half meter wyer as die vuurmaakplek.

15. Die vuurmaakplek was twee meter hoog en het vier horings gehad wat boontoe gewys het.

16. Die vuurmaakplek was vierkantig, ses meter lank en net so breed.

17. Die boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter lank en net so breed. Die afleivoor onder het 'n rand van 'n kwart meter breed gehad en was rondom 'n half meter diep. Die trappe teen die altaar op was aan die oostekant.

18. Die man met die meetstok het vir my gesê: “Mens, so sê die Here my God: Die voorskrifte oor die bring van offers op die altaar en die sprinkel van bloed teen hom sal soos volg wees: die dag wanneer hy klaar gebou is,

19. moet jy vir die Levitiese priesters uit die nageslag van Sadok 'n bul gee as 'n sondeoffer; hulle is die priesters wat by die altaar mag kom om die diens aan My te verrig, sê die Here my God;

20. dan moet jy van die bul se bloed vat en dit aan die vier horings en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar smeer, en ook teen die sykante rondom. So moet jy die altaar reinig en dit geskik maak vir diens aan My;

21. daarna moet jy die sondeofferbul verbrand op die plek wat naby die tempel maar buitekant die heiligdom daarvoor aangewys is;

22. die dag daarna moet jy 'n bokram sonder liggaamsgebrek as sondeoffer aanbied en moet jy die altaar reinig net soos in die geval van die bul gedoen is;

23. as jy klaar is met die reiniging, moet jy 'n bul en 'n skaapram, albei sonder liggaamsgebrek, as offers aanbied;

24. jy moet hulle aanbied in die teenwoordigheid van die Here, en die priesters moet sout op die offervleis gooi en dit as 'n brandoffer vir die Here offer;

25. jy moet sewe dae lank elke dag 'n sondeofferbok voorsien, en ook 'n bul en 'n skaapram, almal sonder liggaamsgebrek;

26. die altaar moet sewe dae lank voorberei word vir die diens aan My en so gereinig en aan My gewy word;

27. eers as dié tyd verby is, van die agste dag af en daarna, mag die priesters julle brandoffers en julle maaltydoffers op die altaar bring en sal julle vir My aanneemlik wees,” sê die Here my God.