hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Teenstand teen die

1. Die vyande van Juda en Benjamin het gehoor dat die ballinge besig was om die tempel van die Here, die God van Israel, te herbou.

2. Hulle het toe vir Serubbabel en die ander leiers genader en gesê: “Ons wil saamwerk, want ons aanbid dieselfde God as julle. Ons het al van die tyd af toe koning Esarhaddon van Assirië ons hierheen gebring het, aan Hom offers gebring.”

3. Maar Serubbabel, Jesua en die ander leiers van Israel het geantwoord: “Ons het niks in gemeen met julle nie, julle mag nie deel wees van hierdie projek nie. Koning Kores het ons beveel om die tempel vir die Here, die God van Israel, te bou, en ons sal dit doen.”

4. Die plaaslike bevolking het toe die mense van Juda uit die werk probeer hou deur hulle moed te breek en hulle bang te maak.

5. Hulle het mense omgekoop om hulle te frustreer en hulle planne in die wiele te ry. Tydens die bewind van Kores van Persië het hulle aangehou om so op te tree totdat koning Darius van Persië aan bewind gekom het.

Teenstand onder koning

6. In die tyd toe Ahasveros koning geword het, het die teenstanders van Juda ’n brief geskryf waarin hulle die inwoners van Juda en Jerusalem aangekla het.

7. Later, toe koning Artasasta van Persië aan bewind was, het die vyande van Juda onder leiding van Bislam, Mitredat en Tabeël ’n brief in Aramees vir hom gestuur. Dit is vir koning Artasasta vertaal.

8. Die brief is deur die goewerneur Regum en Simsai die sekretaris geskryf met die doel om koning Artasasta oor die omstandighede in Jerusalem in te lig.

9. Rehum die goewerneur en Simsai het die koning namens al hulle medewerkers gegroet. Dit was namens die regters en die plaaslike leiers, die amptenare uit Persië, die Babiloniërs en ook die mense uit Erek en Susan, dit is Elam.

10. Hulle het ook groete oorgedra namens al die mense wat die hoogaangeskrewe en beroemde Asenappar weggevoer en in Samaria hervestig het. Verder ook namens al die mense in die aangrensende lande van die provinsie wes van die Eufraatrivier.

11. Hier is ’n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het: “Aan koning Artasasta, van al die lojale onderdane in die provinsie wes van die Eufraatrivier.

12. “Hiermee stel ons U Majesteit in kennis dat die Jode in Jerusalem wat uit Babel na ons teruggekeer het, besig is om daardie opstandige en slegte stad weer op te bou. Hulle het alreeds die fondasies herstel en sal die mure binnekort voltooi.

13. U Majesteit moet egter weet dat as daardie stad eers herbou en die mure voltooi is, die Jode sal weier om enige belasting, heffings of tolgelde te betaal. Dit sal tot nadeel van u ryk se inkomste strek.

14. “Ons is egter as u onderdane aan u lojaal. Omdat ons nie wil sien dat dit u tot oneer strek nie, voorsien ons u van hierdie inligting.

15. Ons stel voor dat u u voorgangers se argiewe nagaan om vas te stel hoe opstandig hierdie stad in die verlede was. Dit was juis vanweë ’n lang geskiedenis van verset teen die konings en lande wat hulle wou beheer, dat die stad vernietig is.

16. Daarom stel ons dit aan u dat as hierdie stad herbou en die mure herstel is, die provinsie wes van die Eufraatrivier vir u verlore sal wees.”

17. Die koning het toe die volgende antwoord gestuur: “Ek groet die goewerneur Rehum, die sekretaris Simsai en al die amptenare wat in Samaria en die provinsie wes van die Eufraat woon.

18. “Die brief wat julle aan my gestuur het, is vertaal en aan my voorgelees.

19. Ek het bevel gegee dat die rekords ondersoek word. Dit het aan die lig gekom dat Jerusalem van die vroegste tye af teen menige koning in opstand gekom het. Om die waarheid te sê, dit was ’n broeiplek vir opstand en rebellie!

20. Magtige konings het al oor Jerusalem en die hele provinsie wes van die Eufraatrivier regeer. Hulle het groot bedrae belasting, heffings en tolgelde ontvang.

21. Daarom moet julle ’n bevel uitreik dat hierdie mense hulle boubedrywighede moet staak. Daardie stad moet nie herbou word nie, behalwe as ek self die opdrag gee.

22. Gee sonder versuim aandag aan die aangeleentheid sodat die belange van my ryk nie enige verdere skade ly nie.”

23. Toe hierdie brief van koning Artasasta aan Rehum, Simsai die skrywer en hulle amptenare voorgelees is, het hulle dadelik Jerusalem toe gegaan en die Jode gedwing om met die bouery op te hou.

Voortsetting van die bouwerk

24. Die werk aan die tempel van God in Jerusalem is toe gestop. Alles het net so bly lê tot in die tweede jaar van koning Darius van Persië se regering.