hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 1 Bybel vir Almal (ABA)

Koning Ahasveros stuur die koningin weg

1. Dit was in die tyd toe Ahasveros koning was. Hierdie koning Ahasveros was koning van 127 provinsies, van die land Indië tot by die land Kus.

2. In die tyd toe koning Ahasveros regeer het, het hy gewoon in Susan, ’n stad wat sterk mure gehad het.

3. In die derde jaar nadat hy koning geword het, het hy ’n fees gehou vir al sy amptenare en ministers. Die belangrike manne van die lande Persië en Medië was daar, en al die belangrikste amptenare van die provinsies.

4. Die koning wou vir hulle wys dat hy ’n ryk en belangrike koning is. Die fees het 180 dae lank aangehou.

5. Ná daardie fees het die koning almal wat in die stad Susan gewoon het, genooi om saam met hom fees te vier op die oop stuk grond in die tuin van sy paleis. Hierdie fees het sewe dae lank aangehou.

6. Hulle het wit en blou lappe vasgemaak aan ringe aan marmer pilare. Hulle het die lappe vasgemaak met toue van linne en pers wol. Daar was banke van goud en silwer op ’n vloer van baie kosbare klip.

7. Die mense het gedrink uit goue bekers, die bekers was nie almal dieselfde nie, en daar was baie wyn, die koning het so besluit.

8. Elkeen kon drink so baie of so min soos hy wou drink. Die koning het gesê die paleis-amptenare moet vir die gaste sê hulle mag self besluit.

9. Koningin Vasti het ook vir die vroue genooi om te kom eet in die paleis van koning Ahasveros.

10. Op die sewende dag van sy fees het die koning vrolik gevoel van die wyn. Hy het die sewe manne geroep wat in die paleis vir hom gewerk het. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas.

11. Die koning het gesê hulle moet vir koningin Vasti na hom toe bring, en sy moet haar kroon op haar kop dra. Hy wou vir al die amptenare en vir al die mense wys hoe mooi sy is. Sy was ’n baie mooi vrou.

12. Maar koningin Vasti wou nie kom toe die koning haar laat roep het nie, en die koning het kwaad geword, baie kwaad.

13. Hy het gepraat met die slim mense wat vir hom gehelp het om te besluit, want die koning het altyd vir die mense wat die wette geken het, gevra wat hy moet doen.

14. Die sewe amptenare van Persië en Medië was naby die koning. Hulle was Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan. Hulle was die belangrikste amptenare in die land en hulle kon self met die koning praat.

15. Die koning het vir hulle gevra: “Wat sê die wette, wat moet ek doen met koningin Vasti? Sy het nie geluister toe ek die manne gestuur het om haar te roep nie.”

16. Memukan het vir die koning en die amptenare gesê: “Koningin Vasti het verkeerd gedoen teen die koning, en sy het ook verkeerd gedoen teen al die amptenare en teen al die mense in die provinsies van die koning.

17. Al die vroue sal hoor wat die koningin gedoen het en hulle sal dink hulle mans is nie belangrik nie. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het vir koningin Vasti laat roep, en sy het nie gekom nie.’

18. Die vroue van die leiers van Persië en Medië wat hoor wat die koningin gedoen het, sal vandag dieselfde sê vir hulle mans, daardie vroue sal dink hulle mans is nie belangrik nie, en dan sal hulle mans baie kwaad word.

19. As die koning dink dit is reg, dan moet jy dit vandag sê, en jy moet ’n wet laat skryf in die wette van Persië en Medië. Die wet moet sê dat Vasti nie weer by jou mag kom nie. En jy moet ’n ander vrou kies en jy moet haar koningin maak, ’n vrou wat beter is as Vasti.

20. As die mense in al die lande waaroor die koning regeer, hoor wat die koning gesê het, dan sal elke vrou haar man respekteer, dit maak nie saak of die man belangrik of onbelangrik is nie.”

21. Die koning en die amptenare het gesê dit is goed, en die koning het gedoen wat Memukan gesê het.

22. Die koning het gesê hulle moet briewe stuur na elke provinsie, en hulle moet die skrif en die taal gebruik van die mense van daardie provinsie. Die koning het gesê dat elke man die hoof moet wees in sy huis en dat hy moet doen wat die mense van sy volk gewoonlik doen.