hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 4 Bybel vir Almal (ABA)

1. Mordegai het uitgevind wat gebeur het. Hy het sy klere geskeur, hy het rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy het deur die stad geloop en hy het baie hard gehuil.

2. Hy het gegaan tot voor die paleis van die koning, want mense mag nie in die paleis ingegaan het wanneer hulle rouklere gedra het nie.

3. Die Judeërs het begin rou, in elke provinsie, op elke plek waar hulle gelees het oor die besluit van die koning en die wet. Hulle het gevas en hulle het hard gehuil en gekla, en baie Judeërs het rouklere aangetrek en as op hulle koppe gegooi.

4. Die jongmeisies en die amptenare by Ester het vir haar vertel wat Mordegai doen. Die koningin het groot geskrik en sy het vir Mordegai klere gestuur sodat hy sy rouklere kon uittrek. Maar Mordegai wou nie die klere neem nie.

5. Toe roep Ester vir Hatak. Hatak was ’n amptenaar van die koning, en die koning het gesê hy moet vir Ester werk. Ester het vir Hatak gesê hy moet na Mordegai toe gaan en hy moet uitvind wat Mordegai doen en hoekom hy dit doen.

6. Hatak het na Mordegai toe gegaan op die oop stuk grond voor die paleis van die koning,

7. en Mordegai het vir hom vertel wat alles met hom gebeur het. Hy het ook gesê presies hoeveel silwer Haman belowe het om vir die koning se amptenare te gee. Hulle moes dit vir die koning bêre as hy al die Judeërs sal laat doodmaak.

8. Mordegai het vir Hatak een van die briewe gegee wat die koning oral in die stad Susan vir die mense gestuur het. In die briewe het die koning geskryf wat hy besluit het. Mordegai het gesê Hatak moet die brief vir Ester wys en vir haar alles vertel. Hy moet ook vir haar sê sy moet na die koning toe gaan en sy moet vir hom vra dat hy jammer moet wees vir haar mense en dat hy hulle nie moet laat doodmaak nie.

9. Hatak het vir Ester gaan sê wat Mordegai gesê het,

10. en Ester het vir Hatak gesê hy moet vir Mordegai gaan sê:

11. “Al die koning se mense en almal in die provinsies van die koning weet dat enige iemand, ’n man of ’n vrou, net na die koning toe mag gaan op die oop stuk grond binne-in die paleis wanneer die koning hom laat roep. As iemand na die koning toe gaan maar die koning het hom nie geroep nie, dan is daar een wet vir almal: Daardie persoon moet sterf. Hy sal net aanhou lewe as die koning sy goue septer na hom toe uitsteek. Die koning het my nog nie laat roep nie, en vandag is 30 dae klaar verby.”

12. Hulle het vir Mordegai vertel wat Ester gesê het,

13. en toe het Mordegai gesê hulle moet vir Ester antwoord en sê: “Jy moenie dink dat jy vry sal wegkom omdat jy in die koning se huisgesin is nie, jy sal saam met die ander Judeërs sterf.

14. Want as jy regtig wil stilbly in hierdie tyd, dan sal Iemand anders vir die Judeërs help. Hulle sal vry wegkom, maar jy en jou familie sal sterf. Hoekom dink jy het jy koningin geword? Miskien het dit gebeur sodat jy jou volk kan help in so ’n moeilike tyd.”

15. Ester het toe gesê hulle moet vir Mordegai gaan sê:

16. “Jy moet al die Judeërs in die stad Susan laat bymekaarkom en julle moet vas en dink aan my. Julle moet drie dae lank niks eet of drink nie, elke dag en nag. Ek en my jongmeisies sal ook vas, en daarna sal ek na die koning toe gaan. Dit is teen die wet, ek mag dit nie doen nie, maar as ek moet sterf, dan is dit goed.”

17. Mordegai het gegaan en hy het alles gedoen wat Ester gesê het.