hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 5 Bybel vir Almal (ABA)

1. Drie dae later het Ester haar koningin-klere aangetrek en sy het op die oop stuk grond binne-in die paleis gaan staan. Dit was oorkant die kamer van die koning. Die koning het op sy troon gesit oorkant die deur van die kamer.

2. Toe die koning vir koningin Ester daar op die oop stuk grond sien staan, was hy dadelik vriendelik met haar. Hy het ’n goue septer in sy hand gehad, en hy het dit na haar toe uitgesteek. Sy het nader gekom en aan die punt van die septer geraak.

3. Die koning vra toe vir haar: “Koningin Ester, wat is dit, wat wil jy vir my vra? Jy mag enige iets vir my vra. As jy die helfte van die lande vra waaroor ek regeer, dan sal ek dit ook vir jou gee.”

4. Ester het gesê: “As die koning dink dit is reg, dan moet die koning en Haman vandag saam met my kom eet.”

5. Die koning het dadelik vir Haman laat roep, sodat hulle kon doen wat Ester gevra het. Hulle het saam gegaan om die kos te gaan eet wat Ester gereedgemaak het.

6. Terwyl hulle wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gesê: “Ek sal vir jou alles gee wat jy wil vra, ek sal doen wat jy wil hê, ook as jy die helfte van die lande vra waaroor ek regeer.”

7-8. Ester het geantwoord: “As die koning van my hou en as die koning wil doen wat ek wil hê, dan moet die koning en Haman môre weer saam met my kom eet. Ek sal dan vir die koning sê wat ek wil hê.”

9. Haman was bly en gelukkig toe hy daardie dag uit die paleis gaan. Maar toe sien hy dat Mordegai voor die paleis sit, en Mordegai het nie opgestaan en gewys dat hy vir Haman respekteer nie. Haman was baie kwaad vir Mordegai,

10. maar hy het nie gewys dat hy kwaad is nie. Haman het huis toe gegaan en hy het sy vrou Seres en sy vriende laat roep.

11. Hy het gespog en gesê dat hy baie ryk is en baie seuns het en dat die koning hom ’n belangrike man gemaak het, belangriker as al die ander amptenare en die ministers van die koning.

12. Haman het ook gesê: “Koningin Ester het net vir my gevra om saam met die koning by haar te kom eet, sy het vir niemand anders gevra nie. En sy het gevra dat ek môre weer saam met die koning by haar moet kom eet.

13. Maar ek sal nie regtig gelukkig voel as ek nog sien dat Mordegai, die Judeër, voor die paleis sit nie.”

14. Haman se vrou Seres en al sy vriende sê toe: “Jy moet sê hulle moet ’n paal in die grond plant. Die paal moet 50 el hoog wees, en dan moet jy môre vir die koning vra dat hulle vir Mordegai moet ophang aan die paal. Dan sal jy gelukkig voel wanneer jy saam met die koning na koningin Ester gaan.”Haman het gedink dit is ’n goeie plan, en hy het gesê hulle moet die paal in die grond plant.