hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 6 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daardie nag kon die koning nie slaap nie. Hy het gesê hulle moet die dagboek bring, die boek waarin hulle die geskiedenis geskryf het, alles wat gebeur het. Hulle het vir die koning gelees uit die boek.

2. Hulle lees toe dat Mordegai vertel het dat Bigtana en Teres vir koning Ahasveros wou vermoor. Bigtana en Teres was amptenare van die koning, hulle was poortwagte.

3. Die koning vra toe: “Wat het ons gedoen om vir Mordegai te wys dat hy belangrik is?”Die jongmanne wat vir die koning bedien het, sê toe: “Ons het niks vir hom gedoen nie.”

4. Die koning vra toe: “Is daar iemand op die oop stuk grond?”Haman het daardie tyd op die oop stuk grond van die paleis gekom. Hy wou vir die koning vra om vir Mordegai op te hang aan die paal wat hy laat plant het.

5. Die koning se jongmanne sê toe vir die koning: “Haman staan daar op die oop stuk grond.”En die koning sê: “Sê vir hom hy moet inkom.”

6. Toe Haman inkom, vra die koning vir hom: “Haman, wat dink jy moet ons doen vir iemand wanneer die koning vir hom wil wys dat hy belangrik is?”Haman het gedink: Vir wie wil die koning wys dat hy belangrik is? Ek is seker dit is ek.

7. Hy sê toe vir die koning: “Wanneer die koning vir iemand wil wys dat hy belangrik is,

8. dan moet hulle koningsklere bring wat die koning self gedra het. Hulle moet ook ’n perd bring waarop die koning gery het, ’n perd wat ’n kroon op sy kop het.

9. Hulle moet die klere en die perd gee vir een van die belangrikste amptenare van die koning. Hy moet dan die klere vir daardie persoon aantrek, die persoon vir wie die koning wil wys dat hy belangrik is. Die amptenaar moet daardie belangrike persoon op die perd laat ry oor die oop stuk grond in die stad en hy moet skree: ‘Dit is wat ons doen met iemand wanneer die koning wil wys dat hy belangrik is.’ ”

10. Die koning sê toe vir Haman: “Maak gou! Neem die klere en die perd en doen soos jy gesê het met die Judeër Mordegai wat voor die paleis sit. Jy moet alles doen wat jy gesê het.”

11. Haman het die klere en die perd geneem en hy het die klere vir Mordegai aangetrek. Hy het vir Mordegai oor die oop stuk grond in die stad laat ry en hy het geskree: “Dit is wat ons doen met iemand wanneer die koning wil wys dat hy belangrik is.”

12. Daarna het Mordegai teruggegaan na die paleis, en Haman het vinnig huis toe gegaan. Hy het gerou en hy het sy kop toegemaak met ’n doek.

13. Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende vertel wat met hom gebeur het. Sy slim manne en sy vrou Seres het toe vir hom gesê: “Die koning het jou verneder voor Mordegai. Mordegai is ’n Judeër, en daarom sal jy niks teen hom kan doen nie. Hulle sal jou nog meer verneder, dit is seker.”

Die koning sê hulle moet vir Haman ophang

14. Terwyl hulle besig was om te praat, het die amptenare van die koning daar gekom. Hulle het Haman vinnig geneem om die kos te gaan eet wat Ester gereedgemaak het.