hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 2 Bybel vir Almal (ABA)

Ester word koningin

1. Later was die koning nie meer kwaad nie, maar hy het gedink aan Vasti en wat sy gedoen het en wat hy oor haar besluit het.

2. Die jongmanne wat vir die koning gewerk het, het gesê die koning moet sê hulle moet vir hom mooi jongmeisies soek.

3. Hy moet in al die provinsies waaroor hy regeer, mense kies en aanstel om al die mooi jongmeisies te soek, en hulle moet die meisies na die stad Susan bring. Die meisies moet bymekaarkom in die kamers vir die vroue, en Hegai, die amptenaar van die koning, sal die vroue daar oppas. Dan moet hulle al die meisies mooi maak,

4. en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet koningin word ná Vasti. Die koning het gedink dit is ’n goeie plan, en hy het dit gedoen.

5. In die stad Susan was daar ’n man wat uit die land Juda gekom het. Sy naam was Mordegai. Hy was van die Benjamin-stam en hy was die seun van Jaïr seun van Simi seun van Kis.

6. Toe koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin gevang en weggevat het na Babel, het hy vir Mordegai en sy familie ook saamgevat.

7. Mordegai het ’n niggie gehad, sy was ’n weeskind. Mordegai het vir haar gesorg en haar grootgemaak. Haar naam was Hadassa, en hulle het haar ook Ester genoem. Sy was baie mooi. Mordegai het haar aangeneem toe haar ouers dood is en sy het Mordegai se dogter geword.

8. Toe die amptenare hoor wat die koning besluit het, het hulle baie jongmeisies bymekaargemaak. Hulle het die meisies na die stad Susan geneem. Daar het Hegai vir die meisies gesorg. Ester was een van hierdie meisies. Hegai was die opsigter wat gekyk het dat alles reg is in die kamers waar die koning se vroue gewoon het.

9. Hegai het gesien dat Ester baie mooi is, en hy het gehou van haar. Hy het dadelik gesorg dat sy die regte kos kry en dat hulle vir haar baie mooi maak. Hy het sewe meisies uit die paleis gekies om haar te help, en hy het vir haar en die meisies die beste kamers gegee om in te woon.

10. Ester het nie gesê van watter volk sy is en wie haar familie is nie. Mordegai het gesê sy moet stilbly daaroor.

11. Mordegai het elke dag by die kamers van die koning se vroue verbygeloop om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat hulle doen met haar.

12. Hulle het elke meisie twaalf maande lank mooi gemaak, ses maande met mirre-olie en ses maande met balsem en ander mooimaakgoed. Wanneer dit ’n meisie se beurt was om by koning Ahasveros te kom,

13. dan kon sy enige iets kry wat sy na die paleis wou saamneem, enige iets uit die kamers van die vroue.

14. Die meisie het in die aand ingegaan in die paleis. Wanneer sy in die oggend terugkom, moes sy na ander kamers gaan waar die byvroue van die koning gewoon het. Die amptenaar Saäsgas het vir hierdie vroue gesorg. ’n Byvrou het net weer by die koning gekom as hy gesê het sy moet kom.

15. Ester was die dogter van Abigajil, Mordegai se oom. Mordegai het haar aangeneem, sy was soos Mordegai se eie dogter. Toe dit Ester se beurt was om na die koning toe te gaan, het sy niks gevra wat sy wou saamneem nie. Sy het net die klere saamgeneem wat die amptenaar Hegai gesê het. Hegai was die opsigter wat die vroue van die koning opgepas het. Almal wat vir Ester gesien het, het gehou van haar.

16. Ester het by koning Ahasveros in sy paleis gekom in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende jaar nadat hy koning geword het.

17. Die koning het baie lief geword vir Ester, meer lief as vir al die ander vroue. Hy het meer van haar gehou as van die ander meisies. Hy het ’n kroon op haar kop gesit en hy het haar die koningin gemaak. Voorheen was Vasti die koningin.

18. Die koning het ’n groot fees gehou vir al sy amptenare en ministers. Dit was ’n fees vir Ester. Die koning het gesê die mense van die provinsies moet ’n tyd lank nie belasting betaal nie en hy het vir baie mense presente gegee.

19. Toe die amptenare die meisies bymekaargebring het, was Mordegai ’n amptenaar by die paleis.

20. Ester het nie gesê wie haar familie is en van watter volk sy is nie. Mordegai het gesê sy moenie vir hulle sê nie, en Ester was nou ook so gehoorsaam soos toe sy grootgeword het by hom.

21. In die tyd toe Mordegai ’n amptenaar was by die paleis van die koning, het twee amptenare van die koning kwaad geword vir koning Ahasveros en hulle het besluit om die koning te vermoor. Hulle was wagte wat die koning moes oppas.

22. Mordegai het gehoor wat hulle wil doen, en hy het dit vir koningin Ester gesê. Sy het vir die koning gaan sê wat Mordegai gesê het.

23. Die koning het gesê sy amptenare moet kyk of dit waar is, en hy het die twee mans laat ophang aan ’n paal. Hy het gesê sy amptenare moet dit in sy dagboek skryf.