Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:26-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Die Leviete het hulle plek ingeneem met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette.

27. Daarna het Hiskia beveel dat die brandoffer op die altaar gesit moet word. Terwyl die brandoffer aangebied is, het die lofliedere tot eer van die Here begin. Hulle is begelei met die trompette en ander instrumente van Dawid, koning van Israel.

28. Die hele gemeente het die Here aanbid terwyl die sangers gesing en die trompette weerklink het. Dit het voortgeduur totdat die brandoffers klaar was.

29. Toe dit klaar was, het die koning en almal saam met hom in aanbidding gebuig.

30. Koning Hiskia en die amptenare het die Leviete beveel om die Here te prys met die psalms van Dawid en Asaf die siener. Hulle het met vreugde lofliedere gesing, neergebuig en aanbid.

31. Toe het Hiskia aangekondig: “Julle is nou aan die Here gewy. Bring nou julle offers en dankoffers na die tempel van die Here.” Die gemeente het hulle offers en dankoffers gebring en elkeen wat in sy hart so gevoel het, het vrywillig ook nog brandoffers gebring.

32. Die gemeente het 70 beeste, 100 ramme en 200 lammers vir brandoffers gebring.

33. Hulle het ook 600 beeste en 3 000 skape as offers gebring.

34. Daar was te min priesters om al die brandoffers voor te berei sodat hulle bloedverwante, die Leviete, hulle moes help totdat alles afgehandel en meer priesters gewy was. Die Leviete was meer nougeset met hulle toewyding as die priesters.

35. Daar was ’n oorvloed van brandoffers, die meegaande drankoffers, en ook die vet van die maaltydoffers. So is die diens in die tempel van die Here weer gevestig.

36. Hiskia en die hele volk het gejuig oor wat God vir die volk gedoen het, want alles is gou afgehandel.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29